Wysheid in beskuit

Ek het 2 pakkies beskuit vir die kamp gekoop. Een bruin pakkie vir ‘n bietjie gesondheid, en een ligte pakkie vir die lekkerte. Die semelryke beskuit was lekker genoeg, maar die wit beskuit was teleurstellend, eintlik smaakloos. Een van die kinders het opgemerk dat dit proe asof daar geen liefde in is nie. Die kenmerk van ‘n kommersiële produk wat sy doel gemis het.

Een van die mooiste eienskappe vir my is wanneer mense hul werk met passie en deeglikheid doen. Dit strek van die skoonmaker tot die karwag, kassier, motorwerktuigkundige, petroljoggie, onderwyser, noem maar op, tot die hoogste gesag. Dan maak dit nie saak wie of wat jy is nie, maar of jy dit wat jy ontvang het, gawes of geleenthede, ten volle aangryp en gebruik.

Wanneer my dogter tydens ‘n onderhoud onverwags haar kernwaardes moet opsom, is dit die 5-A beginsel wat by haar opkom: Om Altyd in Alles, jou Allerbeste te doen Asof vir die Allerhoogste.

‘n Belangrike maatstaf vir die gesindheid waarmee ons dinge doen.

In die Bybel beland Daniël in ballingskap sonder dat hy daarvoor gevra het. Tog hou hy nie op om sy waardes uit te leef nie. Nie net onderskei hy hom so van die res nie, maar bly hy afhanklik van die Here in alles wat hy doen. Wanneer die koning versoek dat al sy raadgewers sy droom moet vertel én uitlê en niemand dit kan doen nie, is dit Daniël en sy vriende wat bid vir wysheid. God gebruik hom om die droom uit te lê. Daniël gee die eer aan die Here en sien iets van die groter prentjie raak. Die Koning het die antwoord nodig gehad. Ons gawes en talente is bedoel om die lewe vir mekaar beter te maak.

Dis nie omdat ek meer wysheid het as ander mense dat hierdie geheim aan my geopenbaar is nie, maar omdat die uitleg aan U bekend moet word sodat u ‘n antwoord kan kry op die vrae waaroor u gedink het. – Daniel 2:30

As jy iemand se kar reg maak, is dit sodat daardie persoon veilig kan ry. Of jy help of ‘n diens lewer, êrens kan elkeen ‘n verskil maak, al is dit net met die gesindheid wat ons dinge doen. Ons werk is nie bedoel om net inkomste te genereer nie…dit word gevleg in ander se lewensstories. Daar is altyd ‘n groter prentjie wat ons moet raaksien.

In plaas van om te wonder hoe die Here mý kan help, moet ons dalk eerder vra hoe die Here hierdie situasie wil gebruik. Wanneer my oudste uiteindelik die werk kry na die “AA” onderhoud, is ons verlig en dankbaar. Terselfde tyd wonder ek wie dit die nodigste gehad het? Sy of die skool? ‘n Plek waar sy haar passie kan uitleef of kinders wat kan floreer onder ‘n toegewyde juffrou. Dalk eerder ‘n wen-wen situasie. Die hoek waaruit ons kyk, verander ons ingesteldheid. Jý is dalk die verskil wat jou werk nodig het of die antwoord op iemand se gebed.

Daniël se antwoord word ook my vertrekpunt by my eie werk. Om in afhanklikheid van die Here te leef vir wysheid, gaan oor meer as myself. Mense is soekend vir antwoorde, rigting en leiding.

Wanneer jy jou allerbeste vir die Here gee, maak Hy jou broodjies en vissies, dit wat jy het of kan gee, meer as genoeg. Al wat Hy soek, is ‘n gewillige hart.

Ek wens ek kon ‘n briefie terug skryf vir die beskuit-tannie van daardie pakkies. Stap weer ‘n paar tree terug en ontdek jou passie. Meng ‘n bietjie liefde by en knie ‘n stukkie langer. Daar is mense wat koffie en beskuit nódig het. Boeretroos. Miskien teen die koue, vir die gemoed of bloot vir die samesyn. Jou beskuit raak dalk die hoogtepunt van ‘n moeilike dag.

“Be the difference” in alles wat jy doen.

Altyd in Alles, jou Allerbeste, Asof vir die Allerhoogste.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories