Twee minute

Die dag het perfek begin. Vroegoggend in die berge met die son wat sy kop geleidelik uitsteek. Fynbosblomme op die pad. Klein wolkies in die lug en die blou see in die verte. Die paadjie het op en op geslinger en ons kuite het hard gewerk. Ons het uiteindelik die baken bereik met die mooiste uitsig. Die uitdagings was nog nie klaar nie. ‘n Paar ander koppies het gewag. Hier en daar moes ons oor rotse klouter en op nou paadjies loop. Die afdraende was ook nie maklik nie. Met los klippe en min vashouplek. Klein pienk blomme tussen rotse het ons verras en geel bosse blomme het teen die sonkant geblom. Die sewejaartjies het die pad verder versier. ‘n Lushof vir die oog. Die oggend was goed en ons het die eindpunt bereik. Veilig en ongeskonde. Uniek bevoorreg, soos my vriendin sou sê…

Toe gaan ons see toe, en twee minute raak die verskil tussen lewe en dood.

Die een oomblik was hy oppad na die sandbank voor die gety verander en ons in ‘n oogwink sien hoe hulle in die stroom beland. Asof in stadige aksie het ons hul dopgehou. Gewag vir ‘n teken. Skielik het sy haar hand in die lug gesteek. Ons het opgestaan en nader geloop. Toe hoor ons hoe hy roep, help! Weer het sy haar hand opgesteek en weer het ons die hulpkreet gehoor. Die keer was die lewensredders gereed en binne enkele minute was hul by hom. Betyds.

Dit was eers later wat ons kon gesels. Haar bene was bewerig en haar gemoed vol. Sy was ‘n sterk swemmer maar sou haar neef nie kon red nie. Hy’t bly water sluk, gesukkel om bo te bly en was angsbevange, Op die strand was hy naar en dors, uitgeput en bleek. Twee minute later sou te laat gewees het, het hy erken. Die trauma was vir haar ook erg. Al was sy kalm in die oomblik en kon sy self uitswem het sy besef hoe naby dit was…

Terwyl ek laat die aand na die fotos van die dag kyk, en ons berge sessie herkou, beleef ek die kontras van lewe en dood. Van genot en vrees. Een misstap, en jy val van die krans. Een oomblik waar jy die see onderskat en jy beland in die stroom.

Hoe nodig om te weet waar ons hulp vandaan kom, hoe nodig om te weet aan wie ons behoort. Die lied, Oceans, van Hillsong, kry ander betekenis vir my:

You call me out upon the waters
The great unknown where feet may fall
And there I find You in the mystery
In oceans deep my faith will stand

And I will call upon your Name
And keep my eyes above the waves
When oceans rise
My soul will rest in Your embrace
For I am yours and you are mine

Your grace abounds in deepest waters
Your sovereign hand will be my guide
Where feet my fail and fear surrounds me
You've never failed and You won't start now

So I will call upon Your name
And keep my eyes above the waves
When oceans rise
My soul will rest in your embrace
For I am yours and You are mine...

Ons kan nie altyd kies wat met ons gebeur nie. Ons het nie altyd beheer oor lewensstrome wat oor ons vloei nie. Tog het ons elke dag die keuse om te glo. Om ons oë bo die golwe te hou. Ongeag. “Where feet my fail and fear surrounds me….you’ve never failed and you won’t start now.”

“Daarom sal my Heer self vir julle ‘n teken gee: kyk, die jong vrou is swanger, en gaan ‘n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem.” God met ons, in ‘n wêreld wat dikwels nie sin maak nie. Die boodskap van kersfees.

Die dag het uiteindelik goed afgeloop. Die lewensredders was terug op die strand en die neef en niggie veilig uit die see. Die bergstappie was ‘n hoogtepunt om te onthou. Vir ander was dit net ‘n gewone dag van opstaan en gaan slaap, maar ons het geweet: Twee minute was die verskil.

Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed. Prediker se advies. Leef in die oomblik maar moenie vergeet om jou oog op die Here te hou nie. ‘My our souls rest in His embrace. For I am yours, and You are mine.’ Dís al sekerheid wat ons het.

Twee minute – die verskil tussen hier en daar.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories