
Stille nag…
- Vir kersliedere met sononder
Terwyl hulle daar was, het die tyd aangebreek dat haar kind gebore moes word, en sy het geboorte geskenk aan haar eerste kind, ‘n seun. Sy het Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. – Lukas 2: 6-7
Twee verse som ‘n dag op. ‘n Moeilike dag, as jy tussen die lyne moet lees. Die feit dat daar nie plek was in die herberg nie, word amper net terloops genoem. Meer ter verduideliking waarom die baba in ‘n krip beland. By hoeveel plekke moes hul stop? Moedeloos, desperaat, selfs angstig?
‘Terwyl hul daar was’, vertel min van die reis tót daar. Swanger vrou, ongemaklik, dalk geswelde voete in die hitte. Dan breek die tyd van die geboorte aan, en ons lees dat ‘n seuntjie gebore is en in doeke toegedraai is. Lukas, die dokter, waag ten minste om iets daarvan te skryf. Matteus vermy die onderwerp en spring na Herodus en die sterrekykers. Agter die skerms is ‘n jong, dapper vrou, wat geboorte skenk in ‘n stal. Jare later sing ons van ‘n stille nag en dis hier waar ek ‘n paar tree terug gee.
Besige Betlehem dorpie, geen plek vir ‘n muis. Herders in die veld. Geboorte in ‘n stal. God wat mens word in die mees ongewone omstandighede. Wat kies om in die onperfeksie, Sy verskyning te maak.
Maria bewaar al die dinge in haar hart. Geen sosiale media om die aankondiging te vermeld nie. Geen ‘baby shower’ of ‘gender reveal nie. Nie eers ‘n foto…
Tog is dit die verhaal wat die toets deurstaan….
Want God kies om ‘n mens te word, sodat elkeen wat in hom glo gered kan word. Ongeag waar jy is. Op ‘n moeilike pad, op ‘n ongemaklike plek, buite in die veld, of tussen die gedruis van mense. Hy is daar waar ons Hom die minste verwag.
Met kersfees word ons weer genooi na die krip. Om te kom kyk. Om die wonder te beleef. Die hoe, wat en waar, ‘n oomblik neer te sit en stil te word. Heilige nag, Jesus-kind, lank verwag.
Ook nie om by die krip te bly nie, maar anders terug te gaan:
Die skaapwagters het teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hul gehoor en gesien het. Lukas 2:20
Immanuel, God met ons. Die wonder van daardie ‘Stille nag’.
…ook vir jou bedoel



