
Die swart kol
Hy het ‘n groot bladsy gevat en ‘n swart kol daarop geteken. Toe het hy vir die studente gevra om in ‘n paragraaf iets oor die bladsy te skryf. Almal het die swart kol beskryf. Die Professor wou ‘n punt maak: Daar was baie meer wit op die bladsy, tog het niemand daaroor geskryf nie. Hy het verder verduidelik dat ons in die lewe soms so fokus op dit wat nie reg is nie, dat ons vergeet van al die ander goeie dinge.
My geliefde spreuk kom weer na vore. “It’s not what you look at that matters, it’s what you see.” Dit kom nie natuurlik om die wit bladsy uit te sonder nie, ons moet dit oefen. Ons hoef ook nie die swart kol te ignoreer nie, maar as dit al is wat ons in die lewe raaksien, raak dit ‘n hartseer dag.
In die week hoor ek laat in die aand ‘n geraas buite. Ek wonder vir ‘n oomblik of iemand weer ons asblikhouer wil steel. Tot my verbasing is dit die vullislorrie wat besig is om die asblikke leeg te maak. Ek stap uit en groet vriendelik: “You are working late!”, “Ai mama’ is al wat hy roep voor die lorrie om die hoek verdwyn. Elf uur in die nag. Hoe laat kom hulle nie vanaand by hul huise nie, kan ek nie help om te wonder voor ek rustig in my eie bed gaan lê nie. Vanmiddag het iemand gekla omdat die lorrie so laat is… Soms moet ons ‘n bietjie langer wag voor ons kla. Uit ‘n ander hoek kyk of die ander skoen aantrek.
Wanneer die 20-jarige jong man met sy teddiebeer in my kamer stap, besef ek dat hy outisties is. Ek herken sy ma en verstaan vir die eerste keer hoekom haar skouers so dikwels hang. Haar ‘normale’ dag lyk baie anders as my dag.
Wees sag met mekaar, wil ek sommige dae van die dak af skree. Wag voor jy te gou kommentaar lewer oor dinge wat jy min van weet. Sit jou klippe liewers neer en maak dit eerder ankerklippe teen die stormwaters buite. Oefen om die goeie in mense raak te sien al word jy soms teleurgestel. Luister na stories voor jy jou mening deel.
“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Spreuke 4:23
“Wat die hart van vol is, loop die mond van oor…want ‘n goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die skatkamer van sy hart…” Lukas 6.
Waarmee maak ons ons skatkamers vol?
Dalk begin dit eerstens met ‘n dankbare hart. ‘n Geloofsgewoonte wat ons daagliks moet inoefen. Nie gekoppel aan ons omstandighede of om ons met ander te vergelyk nie. Nie ‘n blinde oog of ontkenning van swaarkry nie, maar n geestelike instrument waarmee ons indirek ons skatkamers vol maak.
‘n Dankbare hart vergelyk nie sy bladsy met iemand anders s’n nie. Hy hou hom ook nie blind vir sy eie swart kolle, sy foute en probleme nie, maar kies om dit wit gedeelte raak te sien en daarop te fokus.
Dankie Here, sê ek vanaand. Alles was dalk nie goed nie, maar daar was iets goeds in hierdie dag….soms het ek nie woorde nie maar is ‘n Halleluja vir U genoeg…
Gratitude
All my words fall short
I got nothing new
How could I express
All my gratitude?
...So I throw up my hands
And praise You again and again
'Cause all that I have is a hallelujah
Hallelujah
And I know it's not much
But I've nothing else fit for a King
Except for a heart singing hallelujah
Hallelujah
(Deur Brandon Lake)



