Hoe kyk jy?

Hy was die tipiese “nerd”. Vaal en nie naby aan “cool” nie. Tot sy verbasing raak hy bevriend met een van die cool seuns in die skool wat na hóm uitreik. ‘n Gewilde seun, goed in sport en alles wat hy nie was nie. Hulle raak regtig groot vriende en hou ‘n ruk na skool nog kontak. Jare later kruis hulle paaie onverwags. Terwyl hulle oor die hede en die verlede praat, kry hy die moed om te vra hoekom hy destyds met hóm bevriend geraak het. Die antwoord was merkwaardig:

“Ek het gesien dat jy “boelie-materiaal” was, maar geweet dat as ek met jou vriende raak, jy veilig sou wees. Niemand sou met my mors nie, daarom sou hulle jou ook uitlos.”

Die woorde tref my vroegoggend terwyl ek oppad is vir my stilwordtyd in die berg. Watter impak het ons teenwoordigheid nie soms op die groter prentjie nie? Dit wat ons bring na ‘n vergadering, op die sportveld of by ons werk. Selfs in ons vriendekring. Hoe nodig om te weet dat ons sterk punte die vermoë het om ander se probleme te kan oplos of hulle selfs te kan beskerm. Om anders te kyk, raak dalk ons grootste bate.

My gedagtes draai na my eie kinders wat ouer word en besig is om hul eie paadjies te stap in verskillende rigtings. Wie se spore uniek is, elkeen met ander uitdagings. Sommige soekend, ander sterk oppad. Soms staan ek magteloos en kyk hoe hulle spook en spartel. Dan bly ek biddend vir wysheid, woorde of mentors op hul pad. Om hulle waarde in Jesus te vind. Ander kere kan ek raadgee of saam help om klippe uit die pad te rol.

Ons suksesse, maar ook teleurstellings, bou ons karakter en vorm ons identiteit. Die grootste vryheid is as jy kan wéés waarvoor jy gemaak is, sonder om jou met ander te wil vergelyk. Soms is dit nodig om te besef dat jou teenwoordigheid ‘n impak op ander se lewens het.

Hoe verder ek in die lewe stap, hoe sagter raak my kyk na ander. Hoe meer ek weet, hoe minder begryp ek. Die Woord bly my anker. Liefde en genade, kernwoorde wat herhaal. Ek besef toenemend dat ek nie die hele wêreld kan verander nie maar dat ek ‘n verskil kan maak in die lewens van mense wat my pad kruis. Dis die saadjies wat ek vir my kinders wil los.

Iemand het eendag gesê dat ons taak as Christene nie is om te oordeel nie: dit is God se taak. Die vyand is die aanklaer. Jesus die verdediger. Ons taak is om getuies te wees. Dis waarvoor ons geroep is.

Omdat die gewilde kind dapper genoeg was om verder te kyk, het hy iets in die bleek seun raakgesien wat ander dalk gemis het. Sy ‘anderse’ optrede het die verskil gemaak.

It’s not what you look at that matters, it’s what you see…

Dikwels is dit nie wát ons vir ander doen nie, maar hoe ons hulle laat voel wat die blywende effek het.

Brad het as ‘n vaal seun ‘n klein plekkie in die son gekry. Tans is hy een van die gewildste omroepers met ‘n hart wat brand vir Jesus…

When others see a shepherd boy,
God may see a king!
- Shepherd's Boy by Ray Boltz

Die Here kyk anders na ons, daarom kan ons ook anders kyk.

Die hart van ‘n mens beplan sy pad, maar die Here bepaal sy voetstappe. Spreuke 16:9

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories