Die Here is by ons

  • Uit Rigters 6 en 7

Op die oog af, was hy nie juis dapper nie, en ook nie eintlik belangrik nie. Sy familie was die armste in die streek en van sy pa se kinders, het hy die minste aansien gehad. Ons ontmoet hom waar hy besig is om koring uit te slaan. In werklikheid kruip hy weg vir die vyand. Tog sien die Here iets in hom raak wat hy self nie sien nie.

“Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!”

Gideon sukkel om sin te maak van die wêreld om hom. Sy geloof is wankelrig en hy voel verward. Hy waag dit om sy hart te deel en die universele vraag te vra: “As die Here by ons is, waarom kom al hierdie dinge oor oor?”

Te midde van sy ongeloof, lees ons hoe die Here Gideon uitkies en hom stuur met die opdrag: “Gaan met die krag wat jy het, want Ek, die Here, is by jou….” Die Here kyk verder as ons. Hy kyk nie vas teen ons ongeloof of onvermoë nie. Hy bekwaam die wat hy roep en versterk hul geloof.

Iemand het eendag genoem dat die broodjies en vissies in jou eie hand, maar min beteken, maar in God se hand, kan dit duisende mense voed. Dis nie altyd wat jy het of waarin jy goed is wat belangrik is nie, maar wat jy die Here toelaat om daarmee te doen.

In my eie werk het ek al baie gesien hoe die Here voorsien wanneer ek nie weet wat om te doen nie. Hy maak deure oop, stuur mense op my pad of lei my gedagtes in die regte rigting. Soms is dit bloot die stemmetjie in jou kop wat jou onrustig maak, waarna jy moet luister.  In die week beleef  ek iets soortgelyks. Ek  ervaar ‘n skielike dringendheid om ‘n sekere pasiënt vroeër te verwys as beplan. Dit kos moeite want dis reeds na-ure. Die kans dat die staat se dokter gaan antwoord, is min. Tog gebeur dit. Deure gaan oop en die korrekte diagnose word gemaak. Sy word  verder verwys en eindig met ‘n noodoperasie…  Ek besef dankbaar dat die Here se hand oor haar was. Dat die regte dokter aan diens was en dat dit Hy was wat my gedagtes gelei het in die regte rigting.

Ons onbekwaamheid of onvermoë was nog nooit ‘n probleem vir die Here nie. Hy ken ons twyfel en waarmee ons stoei. Die groot geheim is om ingeskakel te bly en in afhanklikheid van die Here te lewe. Om jou lewensstaak voor sy voete neer te sit, jou bekommernis en twyfel met Hom te deel en ‘n leerbare gees te hê. Te weet wanneer om oor te gee en wanneer om weer te probeer.

“Gaan met die krag wat jy het”, was die opdrag aan Gideon.

Hy gee ‘n paar tree terug voor hy wanhopig vra:. “Waarmee sal ek hulle red?” Hoe kan die Here mý gebruik, is dikwels ons eie vraag. Die Engel antwoord geduldig “Ek (God) is by jou.”

Wanneer ek worstel oor my kinders, of dinge wat bo my vermoë voel, sien ek die broodjies en vissies raak. Dis wat ek het, Here. U ken my hart, my gawes en talente maar ook my gebreke en dit waarmee ek sukkel. In U hande is dit genoeg. Gebruik my met dit wat ek het, gee my die regte woorde of plaas ‘n wag voor my mond. Waar ek nie die antwoorde het nie, stuur mense op my pad of fluister in my oor, hier is die pad.

Gideon se vrees het nie oornag verdwyn nie. Hy doen sy eerste opdrag in die nag, “omdat hy bang was vir sy pa se familie en vir die stad se mense…”(v 27). Wanneer hy uiteindelik die Midianiete wil aanval, werk die Here met ‘n ander plan. Van die 32 000 mans wat aantree, is dit uiteindelik net 300 manskappe wat oorbly, “sodat hulle nie sou spog en sê, my eie hand het my verlos.” Die Here weet hoe ons harte werk en hoe maklik ons onsself kan prys. Daarom is sukkel en onsekerheid soms nodig. Om te weet dat ons dinge nie in eie krag kan doen nie.

Uiteindelik breek die dag van die aanval aan. Steeds is Gideon bang en onseker. Die Here ken sy hart en stuur nog mense op sy pad. Met ‘n ompad hoor hy iets van die vyand se droom. ‘n Vreemde manier om hom te bemoedig. “Ek (die Here) gee hulle in jou mag oor. Maar as jy bang is om hulle aan te val, moet jy en jou slaaf eers in hulle kamp gaan…” Hoe goed ken die Here nie ons “maar’s” nie! Hy laat Gideon moed skep sodat hy kans sien om die rampshoring te blaas, die aanval te loots en uiteindelik te beleef hoe die Midianiete vlug!

Dis nie wat óns kan doen nie, maar wat ons sáám met die Here kan doen. Psalm 33 herinner my wie vir ons sorg en aan wie die eer behoort.

Dit is Hy wat (ons) verstand gevorm het, wat al (ons) werk deurgrond. Dit is nie deur ‘n groot leër dat ‘n koning wen nie, en nie deur groot krag dat ‘n held behoue uitkom nie. Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir die wat Hom eer, vir die wat op sy mag vertrou…

Die Here sien raak wat ons nie sien nie. Hy gebruik ongelowiges, twyfelaars en hulle wat bang is. Hy ontmoet jou waar jy is, met al jou gebreke en maak van jou die rots.

Skuil jy agter die koring? Gaan vandag met wat jy het en weet:

“Die Here is by jou, dapper man!”

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories