Hardloop na die toring

Dagboek van ‘n mamma:

Dit was ‘n moeilike week. By die werk het ek net-net bygehou. My gedagtes hardkoppig om af te dwaal na dinge daar buite, terwyl ek moes fokus op die nou. Ek werk hard om by alles uit te kom.

By die huis maak die tieners die lewe ook nie maklik nie. Niks “majors” nie, maar die ‘stank vir dank’ gevoel wanneer jy jaag om betyds te wees, vrolik groet en dan net ‘n skewe knik terugkry, put my verder uit.

Dan gebeur die prysuitdeling en ek sit dankbaar en kyk hoe beide op die verhoog beland. Sukses is wel in ys geskryf en toekennings vergader stof, maar in die oomblik, is dit lekker en goed.

Donderdag breek aan en dis amper naweek. Afdraende…tot die vreemde sinnetjie na die hokkie oefening. Mamma moet maar loer, sy’s op die kop raakgeslaan… Ons beland uiteindelik in die ongevalle, ‘n traan wat by haar wang afloop en ‘n breinskandering wag volg. Knop in die keel sit ons en wag. Sy lyk darem beter. ‘n Paar rekeninge later kry ons die goeie nuus. Geen skedelbreuk of bloeding, net ‘n kneusing. Dankie Jesus! Die skoolfunksie wat ek mis, irrelevant…my kind is ok.

In die nag voel ek onrustig. Droom vreemde drome en raak moeg wakker. Ek maak die Bybel App oop en vind die versie van die dag. Dit gee my nuwe krag.

“‘n Sterk toring is die Naam van die Here; die regverdige hardloop dit binne, en is onbereikbaar..” Spreuke 18:10 AFR 20

Ek trek my tekkies aan vir ‘n kort stappie in die woud en vat my honde saam. Terwyl hulle jaag en vang speel, stort ek my hart voor die Here uit. Vandag is my toring, die woud, waar ek op Heilige grond beweeg. Nuwe pienk blomme verras my en ek stop vir ‘n foto. By die stroompie blom wit rosies ongekunsteld. Pragtig. Ek klim die bult op maar raak geirriteerd wanneer my drafhond deur ‘n gat in die draad kruip met die jong hondjie agterna. Waarom wil hulle altyd afdraaipaadjies vat? Dis maklik om uit te kruip, maar om een of ander rede, baie moeiliker om die opening weer te vind wanneer jy moet terug kom!

“Elke afdraaipaadjie ken ek, elke keer het ek verdwaal, elke keer het U my iewers kom haal….” herinner Koos du Plessis ons aan ons eie stryd, en God se genade.

Hardloop na die toring, hoor ek Sy stem. Die Engelse woorde van die lied kom in my kop, en kry nuwe betekenis.

The name of the Lord is
a strong tower,
the righteous run into it
and they are safe...

Ek beleef die kontras van my honde wat, soos ons mense, ook maar te dikwels die verkeerde paaie wil vat om te ontsnap, teenoor die Here wat ons na Hom toe nooi…om in Sy teenwoordigheid skuiling te vind.

Met die honde terug op die paadjie, bereik ons die eindpunt. Siel verfris en modderlyfies tevrede gelukkig. My hart is ligter. Na ‘n woeste week is ek dankbaar dat ek weet waarheen om te vlug. Nie noodwendig na die woud nie, maar die Skepper daarvan.  Die Here is my toevlug! Hy gee mammas nuwe krag.

Ek lig my kop en daag op by die werk. Almal dra pakkies. Die geheim is waar jy dit los…

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories