
Hoe lyk genade?
Ek het vroeg opgestaan om die dag te gryp. Eintlik was ek nog moeg, maar die dag het gewink. Ek het my tekkies aangetrek en gedraf-stap tot by die see. ‘n Wolkebed het aan die Oostekant gelê wat die mooi sonsopkoms gekeer het. Ek was effens teleurgesteld, tog het die son eindelik ook sy kop bo die wolke uitgesteek met enkele geel strale. Die woorde het in my kop gekom: Elke dag is dalk nie goed nie, maar daar is iets goeds in elke dag. Elke sonsopkoms verskil, maar daar is iets moois in elkeen.
Ek het lui by die strand aangekom. Klein gilletjies het weerklink en my oë getrek na twee laggende jongmense wat in die see wou swem. Die proses om nat te word was pynlik lekker. Verbystappendes het geglimlag en bloot die kop geskud. Die vreugde van jonkwees…
Ek het gestop vir ‘n foto. Sonstrale het oor die blou water geblink. Dit was mooi.
Dis egter toe ek terugdraai na die begin van die wandelpaadjie, wat ek iets beleef. ‘n Middeljarige vrou het moeisaam met twee krukke afgestrompel na die klein strandjie langs die rotse. Vir ‘n oomblik het ek gewonder of ek haar moes help, tot ek die man op die bankie gesien het met haar goedjies by hom. Dit was asof sy alleen wóú wees. Tot my verbasing het ek besef dat sy net een been het. Die ander broekspyp het los gehang met ‘n knoop in die middel. Sy het by die water gestop, stadig afgebuk en ‘n skulp of 2 opgetel. Daarna het sy opgekyk en in die rigting van die son gestaar. Háár heilige oomblik.
Hoe lyk genade, kon ek nie help om te wonder nie. Om in die see te kan hardloop of met inspanning na die strand te kan loop? Ek kon nie help om te wonder wat haar storie was nie…
Die wandelpaadjie het my verder geneem. Verby oranje kappertjies, tussen rotse en oor houtbruggies. Bo in die lug het voëltjies in ‘n ry gevlieg. Genade vir hulle, is vryheid in die lug.
Ek was dankbaar vir my vars lug stappie en dat dit ok is om nie altyd te wil hardloop nie. Dan die besef: Ek het twee bene!
My gedagtes het na my ouers beweeg. Wat ouer word en daagliks nuwe uitdagings beleef. Wie se genade seisoen in treë getel word. Dankbaar vorentoe. One day at a time…
Die laaste deel van die wandelpaadjie het naby my broer se bankie gedraai. Sy naam nog duidelik op die plaatjie maar die datums deur wind en weer verbleek. Stop genade by die dood? Die son het warm op my kop geskyn, branders het gebreek en sonbesies het plesierig voortgesing. Die lewe met sy lief en leed…
Hoe lyk genade, het ek opnuut gewonder.
Vir elke seisoen, dalk ‘n bietjie anders. Vir sommige, om sorgloos te hardloop, vir ander, om te strompel na die see. Dalk beteken genade om met twee bene te kan stap of in die laat silwerjare, een tree op ‘n slag te kan beweeg. Vir ander wag die grootste genade dalk anderkant die dood.
Een ding is verseker. Sy genade is vir ons genoeg. Soos ‘n sonsopkoms, is dit elke oggend nuut.
‘n Lui oggend het goed geëindig. Die sonsopkoms was mooi genoeg, maar meer as dit was die wete, dat wat ek het, genoeg is, en alles wat ek asvanselfsprekend aanvaar, ‘n blote gawe is.
Ongeag watter seisoen ons beweeg, om in Sy teenwoordigheid te wees, dalk die grootste genade.



