
Maak die lewe mooi
Een van my gunsteling films oor baie jare, is die fliek, Life is beautiful. Die verhaal van ‘n Joodse man en sy kind in ‘n gevangeniskamp tydens die tweede Wêreldoorlog. Dis ‘n tragiese, maar hartroerend mooi verhaal. Nie net kry die pappa dit reg om sy seuntjie weg te steek en so sy lewe te red nie, maar op ‘n besondere manier hou hy die lewe vir hom mooi.
Deur die eeue deur is daar wonderlike verhale van ouers wat die ekstra myl geloop het en steeds doen vir hul kind. Soms deur te vlug, ander kere om paaie deur woestyne te maak of oor berge te klim. Vir ‘n plekkie in die son of dalk bloot net om te oorleef. Soms tevergeefs en ander kere om die vrugte te pluk.
Wat maak een mamma anders as ‘n ander? Of jy veg vir oorlewing, vir bestaansreg of ‘n toekoms vir jou kind, daar is iets in gemeen. ‘n Ma se liefde…
Op sosiale media gons dit oor die mamma wat haar kind na twee klinieke geneem het om gehelp te word sonder sukses. Wie se kind sterf omdat hulp geweier is. ‘n Onwelkome uitlander wat aan die ontvangkant staan van ander se frustrasies…die gevolge van ‘n oorvol staatsisteem, sonder verskoning vir hul hartelose optrede. In die middel staan ‘n desperate, nou gebroke mamma. My hart huil saam.
Tula tula, sing die mamma. Slaap my kindjie, slaap soet, weerklink nog ‘n stem. Ander woorde, ander taal, selfs ‘n ander wysie. Dieselfde boodskap uit die mammakoor, as ons mekaar maar net wil hoor.
In ‘n klaskamer laat die juffrou kinders op die grond lê terwyl bendes rondom hulle skiet. Sy word die instaan-mamma in daardie oomblik wat die lewe mooi moet hou. Terwyl hul plat lê en angstig rondkyk, laat sy hul ogies toe maak terwyl sy “worship” musiek speel. Knop in die keel, beleef ons iets uit die dagboek van ‘n Kaapse-vlakte-kind. Biddende mammas wag by die huis.
By die hokkieveld hoor ek ‘n mamma skree, mooi my bokkie! Nog een roep uit, laat loop hom, Ma se kind! Trots in haar oë wanneer die bal die doelhok tref. Ons ry taxi en loop die ekstra myl. Staan in wind en weer want ons seisoen is hier. Keer hier en slaan soms laer. Moedig aan, vermaan waar nodig, gil selfs nou en dan. Vannag lê ook hierdie ma en bid. Vir haar kind met al sy dinge.
Almal mammas wat veg, vir ander redes. Ander se stories nodig vir perspektief.
Hoe hou ons die lewe vir ons kinders mooi? Geweld, onbegrip en onverdraagsaamheid is nie die enigste dief. Minderwaardigheid in die sosiale stroom. Geweeg en weer te lig bevind. Te veel druk, te min begrip.
- Ons skep ‘n veilige hawe,
- Maak God die middelpunt. Eet saam aan tafel.
- Maak tyd: Tyd vir mekaar. Tyd vir ander. Minder tyd agter toe deure, meer tyd daar buite.
- Maak skatte vir die hemel bymekaar. Koester vriendskappe. Lewe in oorvloed. Eet jou brood met vreugde.
Stop die oorlog en bou liewers brûe na mekaar.
En die kind wat anders is? Kyk met sagte oë na hom of haar. Jy dra nie elke dag sy skoen. Ken ook nie daardie ma wie se trane snags ook biddend loop. Nie almal sterf sonder medisyne nie. Woorde maak mense stom. Harteloosheid laat die lag verdwyn.
Hou die lewe mooi. Vir jou kind en die kind wat anders is, vir die kinders in jou klas en die kinders in die oorkant land se grootmensstryd.
Die seuntjie in die film was onbewus van die oorlog rondom hom. Die pappa het geleer om sy pakkies buite neer te sit. Oral is daar mammas wat waak en aanhou bid.
“En nou: Geloof, hoop en liefde… hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde.” ‘n Ma se antwoord uit 1 Korintiërs 13.
Só maak ons die lewe mooi.



