
Fynbos blom nie in die modder
In ons gemeente is ons tans besig met ‘n fynbosreeks. Nie net leer ons meer van fynbos nie, maar die metafoor word gebruik as simboliek vir hoe ons as Christene kan regkry om in hierdie tye steeds te kan floreer.
Op die eerste Sondag het ons stilgestaan by die fynbos se wortelstelsel. Ons moet gegrondves wees op God se woord en weet wat ons glo. Dit bly die basis wat ons geanker hou. Met ‘n skatkis van fynbos spesies in die veld en berge rondom ons, was daar genoeg raakpunte waarmee ek kon identifiseer. Ek word immers keer op keer verras met nuwe prentjies op dieselfde paadjie. Dis egter die onderwerp oor fynbos se dreinering, wat my langer laat herkou.
Ek lees die volgende in ons gemeenteboekie: “Fynbos het dreinering nodig. As ons kniepdiep in die water staan, gaan ons verstik aan die genade van God. Sonder die Gees se krag bly ons net inneem en ons verdrink in selfsugtigheid. Fynbos kan ook nie blom in modder nie. Ons moet geestelike dreinering toelaat deur ons harte skoon te maak van dinge soos bitterheid en jaloesie en honger wees na die woord.”
Ek som dit vir myself op. Wat ons ontvang, moet uit ons vloei. Voed jou siel, en laat dit leef na buite. Wat help dit ons woon Sondag vir Sondag ‘n kerkdiens by maar niks wil rondom ons groei nie? Iemand het eendag gesê: Ons moet nie net blom waar ons geplant is nie, maar so blom dat ander om ons begin blom.
‘n Restaurant eienaar noem onlangs dat sy personeel nie graag op ‘n Sondag wil werk nie. Dit is die dag wat mense na kerk in kerkklere kom koffie drink. Hul kla die meeste, maar los die kleinste footjies…
Wanneer ons met die Bybel langs ons op die sitplek stop om petrol in te gooi, wat is dit wat die petroljoggie raak sien? Of wanneer ons gou na kerk ‘n brood of koerant gaan koop, hoe laat ons die kassier of karwag voel?
Wat vloei uit ons uit wanneer ons van die kerk af kom? Kry ons dit reg om die onsuiwer dinge uit te haal sodat helder genadewater ook na ander kan vloei? Jesus se opdrag, julle sal my getuies wees, was nie net bedoel vir sendelinge op ‘n sendingreis nie. As kind van God is ek bedoel om sy getuie te wees waar ek beweeg. In die raadsaal, by die braaivleisvuur, langs die sportveld, by my werk, in die winkel of in die park. Wanneer ons net wil ontvang sonder om te gee, raak ons verstrik in die modder.
As ons stap om lewende water in ons emmertjies te tap, is dit juis in ons broosheid waar water uit ons vloei. Hoe dankbaar as jy dan kan terugkyk en die blommetjies sien opkom van al die klein druppeltjies wat uit jou stukkende emmertjie geval het. Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie, lees ons in Sagaria 4. Soms is dit die klein dingetjies wat die meeste verskil maak.
Ons wortelstelsel bly die basis. Om te blom, die mikpunt, maar om so te leef dat ander Jesus in ons kan sien, bly die opdrag. Dreinering is nie werk nie, dis bloot om toe te laat dat die Heilige Gees deur ons vloei.
Genade-water. Ook vir ander bedoel.



