
Simfonie van hoop
Waaroor skryf ek, vra mense soms. Ek skryf oor dinge wat my hart raak. Soms hartseer, soms bloot net iets mooi. Dinge wat hoop gee.
Ons uitruil-interskole naweek was so ‘n gebeurtenis. Waar ek graag ‘n vergrootglas sou wou uithaal en oomblikke met die land en politieke groepe sou wou deel. Spontane integrasie oomblikke sonder kwotas. Net talent, passie en vriendskappe wat wen. In die koor, orkes, op die hokkieveld, by die netbal, die rugby, die wiskunde olimpiade, dink-of- sink spanne, debat en drama.
Eerste aan die beurt was die kultuuraand waar elke skool sy beurt gekry het om musiek te maak. Strykorkeste het ons siele verkwik en die ‘drumline’ het ons soos altyd betower. Hier was kompetisie nie die dryf nie, maar kuns se uitleef was die doel. Dit was net eenvoudig mooi!
Dan breek die twee sportdae aan en die skoolgrond wemel van blou en groen spanne. Gesonde kompetisie wat nader aan jou huis beweeg soos opponente mekaar ook om die tafel leer ken. Vriendskappe vorm en drukkies word uitgedeel na die wedstryd. Oral is daar wen en verloor, maar eintlik is daar net gewen. Wanneer al die kinders op die busse klim is ons moeg tevrede. Ons vou hul toe in gebed vir ‘n veilige rit. Volgende jaar is dit ons beurt vir die reis.
Kinders, julle gee hoop. Leef voluit, wil ek roep. Moenie ophou droom nie. Julle is gebore vir ‘n tyd soos hierdie. Grootmense, hou op baklei en laat die kinders leef!
My gedagtes stap ‘n paar tree terug. Na ‘n uittreksel wat iemand onlangs op sosiale media gedeel het en my diep geraak het. Van ‘n ander kind wat nie so gelukkig was nie.
Die verhaal begin by ‘n 97 jarige violis, Kenji, een van die oudste Hiroshima oorlewendes, wat op die verhoog beland. Nie om iemand te beindruk nie maar om sy storie met musiek te deel: “The echo of a life interrupted”, soos hy dit self beskryf. Dan vertel hy hoe sy lewe as 18-jarige ingrypend verander het na die bomme Hiroshima getref het. Hy was besig om aan ‘n spesiale duet te werk, toe ‘n helder lig die aarde tref. Hy het wakker geword onder ‘n hoop bourommel. Sy hande verbrand, sy een oog blind en sy viool in stukke. Al sy geliefdes weg en sy drome verpletter. Die gehoor vee trane af. Dan, jare later, ontvang hy ‘n brief van ‘n Hiroshima oorlewingsgroep en ontdek dat sy vriendin tussen die oorlewendes was. Vir drie dae het hy gehuil voor hy die moed gehad het om haar te kontak “Two old sauls broken by history”. Hulle waag dit uiteindelik om die ou note op te tel. Stram vingers raak los en vloei weer tot ‘n simfonie. Sy grys hare wapper in die wind terwyl jare se stilte asem kry. Hy met sy viool en sy agter die klavier….tagtig jaar later. “A farewell of two children who never said goodbye, a lullaby for those we lost, a prayer for peace..our last song.”
Laat die kindertjies na my toe kom, hoor ek tussen die note, sien ek op die sportveld, hoor ek die hulpkreet tussen die rommel, eggo die verlede soos ‘n klagstaat teen oorloë wat vandag nog kinders se drome laat verbrokkel.
A prayer for peace, bly ons gebed.
Ons interskole was ‘n reuse sukses. Kinders kon speel, musiek maak en saam lag. ‘n Grepie uit ‘n stukkie Suid-Afrika wat werk. Êrens tussen al die musieknote kon ‘n melodie vloei. Wanneer ons luister na mekaar kan ons beter sing in harmonie.
Êrens in Israel, Palestina, Ukraine en dalk net hier om die draai, nader as wat ons dink, is daar kinders vir wie interskole soos ‘n droom sou klink.
Lord make us a symphony, a symphony of your peace…uiteindelik wat Hy van ons verlang.



