
Kies die lewe
By die hoërskool reunie het ‘n groep vriende, nou suksesvolle beroepsmanne, besluit om by ‘n oud-onderwyser te gaan kuier. Die gesprekke het begin by hul skooldae maar later meer ernstig geraak. Veral oor die uitdagings wat hul stresvolle beroepe ingehou het en hoe hard hul moes werk om by alles uit te kom. Die onderwyser het na hulle geluister en voorgestel dat hy vir hulle koffie gaan maak.
Hy het teruggekeer met ‘n groot pot koffie en ‘n verskeidenheid koffiebekers op die skinkbord. Sommige mooi en ander gewoon. Nadat almal koffie geskink het, het hy sy waarneming gedeel. Die meeste van hulle het die beste bekers gevat en die gewones op die skinkbord gelos. Ongeag watter beker jy sou vat, die koffie sou dieselfde proe. Dis in ons aard om die beste vir onsself te wil hê, maar wat almal eintlik wou gehad het, was die koffie. Soms werk ons so hard om ons bekers mooi te maak, dat ons die groter prentjie mis. Die koffie word koud en die lewe vlieg verby.
Zantie Swanepoel se Woensdag storie herkou by my.
Terwyl ek die volgende oggend vroeg in die natuurreservaat gaan stap en die mooi my siel binnedring, beleef ek iets daarvan. Koffie-oomblikke. Oomblikke wat geld nie kan koop en ‘n kamera nie volkome kan vasvang nie. Hoe meet ‘n mens immer die vrede wat jou hart binnedring. Buite stap is immers my gebedstyd. Aflaai en oplaai tyd. Stilwordtyd.
Jesaja vra nie verniet in hoofstuk 55: “Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie? Waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?” Die mens bly hunker na meer en na nog. Hulle kry nie, omdat hulle op die verkeerde plek bly soek.
Waaraan meet ek my eie geluk?
Wanneer ‘n visserman eendag gevra word hoekom hy nie liewers ‘n boot koop nie, wou hy weet waarom? Sodat hy meer vis kan vang, was die antwoord. En dan? Meer mense kan aanstel…meer geld kan maak en gouer kan aftree….en dan? Dan kan hy gaan visvang net wanneer hy wil. Toe skud die visserman sy kop vir die jonger man. Waarom al hierdie dinge om uiteindelik te doen wat hy reeds doen.
Soms lê die geheim van die lewe nader aan jou as wat jy dink. Dikwels is dit eers as jy dit verloor, wat jy die waarde daarvan besef. Wat het ons reeds bereik waaroor ons voorheen gedroom het?
Moses motiveer die Israeliete om die lewe te kies voor hul die beloofde land binnetree. Dit begin by die dien van die Here. Hy stel sy saak verder in Deuternomium 30 dat die keuse nie buite ons bereik is nie. Jy hoef nie die lewe ander kant die see of in die hemel te gaan soek nie. Dis nader as wat jy dink.
“Kom na my toe, almal wat dors het”, nooi Jesus uit. “Kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie.”
Mag ons hard werk en die vrugte pluk, maar balans bly vind in die eenvoud. Mag ons kies om die Here lief te hê en Hom aan te hang. Dit is lewe.
Drink gerus uit die mooi beker, maar moenie uitmis op die koffie nie.



