5 Klippies

Toe tel Dawid 5 klippies op…

In dieselfde week kry ek vier keer ‘n boodskap uit die Dawid teen Goliat verhaal. Ek kan nie help om te wonder wat die Here vir my wil sê nie. Die eerste keer het ek toevallig ingeskakel op ‘n radiostasie waar die bekende verhaal dramaties vir kinders vertel is. Ek het gefassineerd geluister na die stemme en ‘n klippie opgetel vir later. Min wetend dat ek die volgende dag twee keer iets oor die Dawid verhaal sou ontvang en nog klippies sou oplaai.

Oppad werk toe luister ek amper daagliks na Angus Buchan se ‘Thought for the day”. Ek het daardie Vrydag nog geamuseerd gedink hoe vreemd dit sou wees as hy vandag ook iets oor Dawid en Goliat sou kwyt raak. My verbasing kon nie groter wees toe dit wel die geval was nie!

Daardie aand gaan soek ek die verhaal in my Bybel en haal ek al my Dawidsklippies uit. Ek sien die reuse in my eie lewe en maak die volgende ontdekkings:

  • God se tydsberekening is perfek. Soms gebruik hy gewone situasies om Sy doel te bereik. ‘n Jong skaapwagter word aangesê om vir sy broers kos te vat en te hoor hoe dit gaan. Sy pa se besorgdheid oor sy broers word die deur wat vir Dawid oopgemaak word.
  • Die Israeliete sien ‘n reus maar Dawid kyk verby die groot man met sy bronshelm, harnas van skubbe, bronsswaard en dik spies, en onthou die grootheid van sy eie God.
  • Dawid se eensame dae van kleinvee oppas, het hom nie net sy slingervel laat oefen nie, maar hom juis geleer om op God te vertrou. “Die Here het my gered uit die kloue van ‘n leeu en die kloue van die beer. Hy sal my red uit die mag van hierdie Filistyn” 1 Sameul 17:37. Ons verlede is soms ons grootste bate om ander reuse aan te pak.
  • Saul se klere wou nie vir Dawid werk nie. Hy was nie aan dit of die swaard gewoond nie en kon nie eens daarmee loop nie. Ons hoef nie iets te wees wat ons nie is nie. Die Here gebruik ons met die gawes wat ons het. Dawid se slingervel en kierie was meer as genoeg.
  • Dis nie altyd hoe groot jou klippie is wat belangrik is nie, dis hoe groot ons God is, wat die verskil maak.
  • Om die groot reuse in ons lewe te beveg, moet ons leer om soos Dawid af te buk. Op ons knieë te begin in gebed. Dis die klippies wat die reus oorwin.
  • Die mense sien ‘n skaapwagter, maar God sien ‘n koning. Die Here kyk anders as ons.

Met die nuwe kwartaal en al sy uitdagings op hande, kan ons maklik toelaat dat angs of bekommernis ons oorweldig. Dawid inspireer ons om verby die reuse in ons lewe te kyk, en ons God raak te sien. Elke dag begin met ‘n keuse. Om hoop te kies en ons vertroue in God te stel. Die Engelse weergawe van Romeine 15 stel dit so mooi:

May the God of hope fill you with all joy and peace, as you trust in Him, so that you may overflow with hope, by the power of the Holy Spirit.

Om oor te vloei van hoop, begin met vertroue.

Toe tel Dawid 5 klippies op...

In God se hand was dit meer as genoeg.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories