
Die Here is naby
“Taste and see that the Lord is good.” Psalm 34:9
Ek tel die saadjie op en dit ontkiem in my hart. Om te kan proe, moet jy waag om te eet. Om die lig te sien, moet jy die gordyne ooptrek. Om te ontvang moet jy gee. Om te hoor moet jy leer om te luister. Êrens is daar ‘n werkwoord betrokke.
Terwyl ek een middag huis toe ry en ‘n radiostasie soek met beter opvangs, hoor ek ‘n deel van ‘n gesprek. Ek ken nie haar agtergrond nie, maar ‘n sin uit haar storie tref my:”Ek moes leer om ook vanuit die put te kan sing.” Later die aand lees ek voort in die boek Handelinge. Paulus en Silas beland in die tronk nadat hulle sonder ‘n verhoor gevange geneem, geslaan en daarna geboei word. “Teen middernag, (dieselfde dag), was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenis het na hulle geluister…” (Handelinge 16). Om te sing vanuit die put.
Die Sondagaand woon ek ‘n erediens by. Die teksgedeelte kom uit die bekende Psalm 23. Daar is ‘n weerloosheid in ons predikant se gesig. Jy sien die lyne van ingehoue emosies wanneer hy ‘n stukkie deel van sy moeilike week. Dis nie maklik om by waters van vrede te kom as jou kind in en uit hospitale beweeg nie. Dis moeilik om te getuig, ek kom niks kort nie, as jou hart vol kommer is.
Ek delf diep in my eie binneste. Te midde van onstuimige waters is die wete dat ons ‘n Herder het wat vir ons sorg, dalk die kernboodskap van Psalm 23.
Wanneer ‘n pasiënt my seën met die mooiste bos orgidieë, word ek amper skaam. My probleme lyk klein in vergelyking met hare. Sy wag vir ‘n mastektomie, sukkel met haar hart en gaan self deur diep waters. Tog bly sy glimlag en kry sy reg om vanuit haar put, steeds vir ander te gee.
Lofprysing laat jou opkyk na God. Dit herinner jou aan Sy grootheid en vat jou fokus weg van jouself. Wat baat dit ander as ons net van die bergpieke af kan sing? In die tronk het die ander gevangenis geluister…en selfs die tronkbewaarder het tot bekering gekom.
Wanneer ek vroeg opstaan en in die donker gaan hardloop, is daar min dinge so kosbaar as om die dagbreek te ervaar. Voëltjies wat begin sing terwyl dit ligter raak. Dan onverwags, pers-oranje strepe wat die hemelruim inkleur. Lig wat duisternis oorwin. Dit is wat “proe” vir my beteken. Om iets van God se sorg te ervaar en my porsie manna van moed en nuwe krag te kan eet.
Psalm 34 se titel, die Here is naby, is ‘n Psalm 23 in ander woorde geskryf. Dieselfde outeur, dieselfde Herder. Dawid vind omdat hy aanhou soek en roep. Dan nooi hy ons uit: “Sing saam met my oor die grootheid van die Here… want Hy antwoord die wat Hom aanroep (vers3), Hy help die moedeloses en is naby die gebrokenes (vers19).”
Dit gaan goed met die mens wat by Hom skuil…nie omdat alles altyd verloop soos ons graag sou wou nie, maar omdat ons in die nabyheid van die Here kom. ‘Taste and see that the Lord is good.’ ‘,Sing like never before!’


