Wees anders

So beland ek op ‘n Saterdagmiddag saam met my kinders in die fliek. Salig. Met 3D brille op, kyk ons ‘How to train your dragon’. Die storie van die Viking seun, Hiccup, wat teen die tradisie, bevriend raak met die Night Fury, Toothless.

Ek geniet die agteroorsit en pik selfs ‘n traan êrens in die fliek. Dis ‘n mooi verhaal. Wat Higgins aanvanklik beskou as ‘n swakheid in homself, die feit dat hy nie soos ander Vikings drake kan dood maak nie, word sy krag. Hy oorwin deur hulle te kielie of te laat nies, mooi te praat en hul vertroue te wen. Kontrasterend teen die ander wat net kan veg of vlug. Die moed om anders te wees.

Op ‘n manier sluit dit aan by die politieke arena waarvan ons toeskouer en kantkiesers word. Baklei en veg. Wie is reg? Stefan Joubert maak die opmerking dat Hy dankbaar is dat ons, deur ons geloof in Jesus Christus, kinders van God genoem kan word, en deel kan wees van Sy nuwe familie. Waar sommige wêreldleiers hul bomme seën, praat ons Here ‘n ander taal : “Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Matteus 5:9

Die Vikings was oortuig dat die drake hulle wil doodmaak. Hiccup sien die vrees in Toothless se oë en besef in daardie oomblik hoe weerloos beide van hulle is. Waneer bomme val, is daar weerlose mense wat seerkry.

More sing ons Amazing Grace in ons kerke, maar ons mis die genade wanneer ons na ander kyk. Ons regverdig uitsprake en maak dit Bybels, maar kies wat ons wil lees. Ons trek die skoen aan soos dit ons pas, want gelukkig bly ons nie daar nie.

Jesus vra waagmoed om anders te kyk en te dink. Minder Fariseër-agtig vingers te wys, maar meer Jesus-gerig voete te was. Heilige grond is nie net by die brandende bos nie, dis onder elke kind van God se voete. Kinders in Suid-Afrika, Amerika, Israel en Palestina, Sirië en selfs Irak. Genade druppels oor elke nasie was deel van God se plan.

It’s not what you look at, that matters, it’s what you see…

Geseënd is die vredemakers, hulle wat waag om anders te dink.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories