Wat hoop jy?
In ‘n kusdorpie naby ons, het ‘n droom waar geword. Kinders uit die gemeenskap is bemagtig met fietse en kundigheid, nie net om uiteindelik aan wedrenne te kon deelneem nie, maar om vorentoe te kan kyk. Hoopsaadjies is geplant.
Die video raak my hart. Ek ken immers die dorpie goed en het die klein fietsbaantjie sien groei. Wat ek nie besef het nie, is wat agter die skerms besig was om te gebeur. Passie en energie met hope geduld, het kinders identifiseer en aangemoedig. Hulle het opgedaag. Weer en weer. Eers moes hul reguit leer ry, dan stadig om die draaie tot hul vinniger kon ry. Fyn tegnieke is bygevoeg en selfvertroue het gegroei. Soms was trane gemeng met stof van val en weer opstaan. Ander kere uitbundige vreugde soos hul mekaar jaag en vang en onwetend besig was om fiks te word. Nog verder agter die skerms was harte van weldoeners wat skenkings gemaak het. Dan die lekker beloning. Deelname. Kinders wat uit hul omstandighede gelig word, hard werk, begin droom, en die vrugte pluk. Hoendervleis mooi wanneer hul met hul geborgde hempies oor die eindstreep ry. Hoop…te midde van.
Jannie Putter vra in sy weeklikse gesprek op Radio Kaapse kansel die vraag: Wat hoop jy vir vandag? Hy gee die voorbeeld van jou kind wat dalk angstig voel oor sy eksamen. Hoop begin nie met, ‘om goed te doen nie’. Dis uitkoms. Hoop is dat ek lekker sal skryf, dat ek die vrae sal verstaan, dat ek onthou wat ek geleer het. Dit laat jou anders daaroor dink en skep ‘n nuwe verwagting.
Terwyl ek werk toe ry, vra ek myself die vraag af. Wat hoop ek vir my werk vandag? Soms nodig om ‘n tree terug te gee voor nog ‘n dag met ons weghardloop. Ek hoop dat ek mense kan bemoedig en dat ek ‘n verskil kan maak in hulle wat my pad kruis. Die blote gedagte bring ‘n ander perspektief aan my dag. Om met hoop te leef begin immers met die eerste tree wat ek gee. As daar nie ‘n verwagting is nie, kan daar nie uitkoms wees nie. Om almal gesond te maak voel oorweldigend, om ‘n verskil te maak, voel moontlik.
Tydens die Pinksterreeks delf ons diep in Handelinge terwyl ons die geloofstryders se paadjies volg. Dis veral Paulus wat my opnuut inspireer. Wat in moeilike omstandighede kalmte bly uitstraal. Merkwaardig as jy besef dat die meeste van sy briewe in gevangenisskap geskryf is. Waarvoor het hy gehoop? Filipense 1:20 gee sy antwoord:
“Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en sterwe, want om te lewe is vir my Christus en om te sterwe, is vir my wins.”
Waar begin hoop? Dalk by Paulus se antwoord dat ek niks sal doen waaroor ek skaam sal voel nie, dat ek Jesus sal verheerlik met wie ek is. Dat ek anders sal kyk en anders sal droom. Nie sal toelaat dat die wêreld my aftrek nie. Geleenthede te soek of self te skep.
Soms vat ons eie camino ons op vreemde paaie. Moet ons dalk diep delf om sin te kry. Geloof is die sleutel om hoop te vind. Geloof in God, nie in my eie vermoëns nie. Wanneer die storms my wil oorweldig keer ek terug na Psalm 23 met die wete dat die Here my herder is en weet wat ek nodig het. Psalm 37 word my rustige vertrekpunt wat my geanker hou “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vetrou op Hom, Hy sal sorg.” Wanneer daar dan saadjies van drome in jou hart geplant word, kan jy dit aangryp en op goeie grond begin saai met ‘n verwagting: jy kan ‘n verskil maak.
Terug by Kleinmond se fietsry-inspirasie, waar die opname ook eindig met die woorde, ons kán ‘n verskil maak. Saadjies van “appreciation” is ingewerk met dankie tannie, dankie coach, dankie kinders. Fotos van trotse ouers en kinders met medaljes rond dit af. Regop skouers en breë glimlagte som die sukses op. Hul reis is maar een van vele stories van hoop in ons land. Dis wat ons moet soek.
Stop, pause, tree ‘n oomblik uit die dolle gejaag, lig jou kop bo die branders uit en raak stil. Hoop begin met geloof. Dit bring ons by aksie.
Waarvoor hoop jy vir hierdie dag?
