Jongmense wat berge klim

Ek het die doef-doef gehoor lank voor ek hulle gesien het. Rusverstoorders, het ek gesug. Stilte-diewe, het ek my eie naam opgemaak. Toe sien ek die groepie jongmense teen die paadjie opstap en ek onthou dit is jeugdag. Seker beter dat hulle ‘n berg uitstap as op ander plekke uithang, het ek myself getroos.

Die tweede groepie wat ek halfpad teekom, was sonder musiek, maar lekker luidrugtig. Vrolike stemme en gelag het weerklink. Hoe ver is dit nog op, wou die oudste onder hul weet? Nog ‘n entjie, was my eerlike antwoord. Uithou en aanhou, tree vir tree, het ek bemoedig. Die uitsig die moeite werd.

Aan die onderkant, naby die beginpunt, het ‘n ander groepie in ‘n kring gestaan. Koppe was gebuig. Besig om te bid, het ek besef. Ons jongmense. Die versie van die dag wat uit 1 Timoteus 4 gekom het, het skielik ‘n ander betekenis vir my gekry:

“Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.”

Die vorige dag stuur my swaer ‘n video-uittreksel op ons familie groepie. Die perd vra vir die seuntjie wat hy eendag wil word. Sy antwoord verras: “Kind…, I want to be kind one day.” Ons is soms so begaan oor wátter werk ons kinders eendag gaan doen, in plaas van oor watter méns jy eendag wil wees?

Terwyl ek van die berg af hardloop dink ek aan my eie werk. Ten spyte van al die finansiële uitgawes wat ons gesin in die sig staar, wil ek nooit net vir geld werk nie. Daar moet ‘n groter doel aan ons dagtaak wees. Om in die kring waar ons beweeg en aan die mense wat ons pad kruis, ‘n verskil te kan maak. Dis immers waarvoor ons gemaak is. Om met ons gawes, van die lewe ‘n beter plek te maak.

Paulus gee sy perspektief oor die uitdagings van die lewe: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie, ons is verleë, maar nie radeloos nie, vervolg maar nie verlate nie, neergewerp maar nie vernietig nie.” Om anders te kyk, vra ‘n ander hoek. Die voorafgaande vers in 2 Korintiërs 4 verklaar sy geheim. “Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek, die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.”

Ons kinders en tieners, maar ook die oumense en ander grootmense, is maar kleipotte wat maklik breek. Tog word ons gemaak vir elke seisoen waar ons beweeg. Oral is ons bruikbaar, omdat die krag wat alles oortref, van God af kom, mits ons Hom toelaat om in ons lewens te werk.

Ek raak opgewonde wanneer jongmense dit waag om uit hul comfortzone te beweeg, al is dit om ‘n berg te gaan klim met ‘n lawaai. Moenie op hulle neerkyk omdat hulle jonk en onervare is nie. Bemoedig hul liewer om aan te hou klim. Êrens, wanneer die lewe met sy uitdagings hul vrolike klanke wil uitdoof, is dit dalk juis die uitsig wat hul sal onthou. Die groter prentjie.

Die krag wat alles oortref, kom van God. Hy maak ons vir elke seisoen en stort sy Gees op alle mense uit. Dan die belofte: Oumense sal drome droom, jongmense sal gesigte sien en jong seuns en dogters sal as profete optree. Só sal dit in die laaste dae wees, sê die Here.

Ek hoop die rasende, laggende en biddende jongmense het die kruin bereik. Die belangrikste is dat hul opgedaag het. Kleipotte kan maklik breek maar die krag wat alles oortref, kom van God. Met of sonder musiek, om ‘n berg te klim, is ‘n teken van hoop. Ook ons jongmense is in Sy hand.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories