Never stop
Op 83 is hy die oudste persoon wat die Comrades wedloop al voltooi het. Die merkwaardige is dat hy hierdie wedloop vir die eerste keer op 63 jaar aangepak het. ‘n Ouderdom waar die meeste hardlopers eerder begin afskaal. Nie Johannes Mosehla van Limpopo nie. Hy inspireer ons met die gedagte dat ouderdom ons nie hoef te keer om steeds vorentoe te beweeg nie. “You don’t stop running because you grow old, you grow old because you stop running…”
Die Comrades Marathon se bekoring lê nie net in die ongelooflike prestasie van die wenners, soos Tete Dijana en Gerda Steyn wie se gemiddelde pas onderskeidelik 3m40s/km en 4min11s/km was nie, maar juis in die nie-elite-gewone-man-op-straat-mense, wat die bykans onmoontlike vermag. The human race, soos daar na dit verwys word, omdat jy moet diep delf in jouself, omring deur ander wat saam swaarkry, met een doel voor oë, om die wedloop binne 12 ure te voltooi.
Op dieselfde dag van die Comrades, speel die tennis spelers, Alcaraz en Sinner teen mekaar in die finaal van die Franse Ope. In ‘n titaniese stryd, wat uiteindelik ook die langste wedstryd in die ope se geskiedenisboeke word, kry Alcaraz die amper onmoontlike reg om as wenner uit te tree. Dit nadat hy in die 4de stel op 0/40 3 wedstrydpunte moes afweer. Aanhou en uithou. Jou hart breek vir Sinner maar tog stap 2 kampioene van die baan af. Om te verloor maak jou nie noodwendige ‘n verloorder nie.
The human race, met sy kronkels en draaie bring ons na ons eie reis. Ons camino, soos die pinksterreeks dit beskryf het, waar jy dikwels diep moet delf om te kan volhard. Aanhou, vorentoe, moedhou, weer probeer.
Terwyl ek musiek moet kies vir die Sondag se erediens, kom die woorde van die lied, Prys die Here in my kop. Nie net is dit ‘n herinnering aan wat die Here vir ons is nie, maar op Vadersdag is dit dalk juis ook vir pa’s bedoel om hulle te herinner dat daar ‘n Vader in die hemel is wat ook vir hulle sorg. Wanneer ons in ons eie vermoëns twyfel, is dit hierdie gereedskap wat ons moet optel:
Die Here is my vesting, die Here is my krag,
Hy's my bron en Hy's my redding
Die een op wie ek wag.
Die Here is my voorspoed, Hy sal vir my voorsien.
Soos 'n pa sorg vir sy kinders,
Sorg die Heer vir wie Hom dien...
Die lied word opnuut ook my anker. Die rede vir ons opstaan en vorentoe beweeg.
Wanneer die meester-comrades man gevra word wat sy geheim is, antwoord hy maklik: ‘Never stop what you love doing’… en, voeg hy by, balans en dissipline. Alcaraz het aanhou speel met sy rug teen die muur en wel die trofee ontvang. “Baken jou koers af…” Spreuke se raad.
Op vadersdag gee ons erkenning aan pappas wat hard werk en toegewyd lewe, maar miskien is hierdie jaar die geleentheid om daardie pappas te herinner aan ons Vader in die hemel: Hy rus ons toe met alles wat ons nodig het. Hy’s ons vesting, ons krag, ons bron en redding. Hy los ons nooit alleen nie. Stort julle harte voor my uit, nooi Hy ons. Ken Hom in alles wat jy doen…
Nooit te oud om te probeer nie, nooit te laat om op te staan nie. Balans en dissipline, die sleutel vir sukses. Dien die Here en weet wie jou bron van krag is…dan sal jy seker wees van elke tree.