Opstaan

“Waarom staan jy op?”, was die vraag vir die tafelgesprek. “Om koffie te maak”, was die ligte antwoord, maar later het dit meer ernstig geword. ‘n Pensionaris se antwoord het my geraak: Sy staan op om haar 5000 tree te begin stap, want die dag raak lank as jy alleen is.

Vir twee weke het die vraag by my herkou. Daar was vinnige praktiese antwoorde soos om jou kinders skool toe te neem, die wasmasjien aan te sit, te gaan hardloop of werk toe te ry. Ook mooi gedagtes soos om ander te help en ‘n verskil te maak. Tog het ons geweet daar is meer…

Ek het bly delf en besluit om by die begin te gaan soek. My vingers het na Genesis geblaai. “Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger.” Tussen al die mooi gedagtes, doelwitte vind en lere wat ons wil klim, is dit miskien die grootste rede vir ons bestaan: Om God se verteenwoordiger te wees. Die antwoord het my verras. Nie net is die vraag dus hóékom jy opstaan nie, want as jy asemhaal en nog kan, is dit nie ‘n opsie nie. Die vraag is eerder…hoe en waar gaan ek vandag my God verteenwoordig?

Terwyl ek voorberei vir Pinkster, tref die woorde van ‘n lied my opnuut: “We’ll walk this land, with hearts on fire, and every step will be a prayer.” Wat ‘n verskil sal ons tog nie kan maak as elke tree wat ons gee, ‘n gebed is nie? As ons meer doelgerig kan lewe en ons grondgebied so goed kan bewerk dat dinge rondom ons begin blom. Iemand het eendag genoem dat jy nie net moet blom waar jy geplant is nie, maar so moet leef dat ander in jou nabyheid begin blom.

By ‘n onlangse staptog beleef ek iets van daai bedding wat wyd begin blom. ‘n Toegewyde vriendin ervaar tydens ‘n uitreikbyeenkoms hoe die Gees haar lei om ‘n stapgroep vir vroue te begin. Dit groei tot ‘n aksie waar 46 vrou van oral in die omgewing, ‘n oornag staproete aanpak. Sy is ‘n juffrou van beroep, maar haar saadjies eindig nie net by die kinders nie, haar kring bereik ook die mammas en ander vriendinne. Sy nooi wyd en syd en vroue kruip uit hul gaatjies en meld aan. Afvlerkvoëltjies, sosiales, eensames, fikses en onervare stappers, mammas wat moeg is, ander wat hartseer is, sommiges sonder kommer en ander met baie energie. Hul pak die rugsakke vol en laai hartsbagasie af. Op die roete raak ons mekaar se draers. Deel van God se opdrag.

Ek verstaan meer van ons opstaan elke dag. Dit hoef nie sinneloos en ‘n gejaag na wind te wees soos die Prediker dit stel nie. Nie net bedoel vir roetine take, oorlewing of 5000 tree om jou dag om te kry nie. Ongeag watter werk ons doen of watter seisoen ons is, ons is gemaak om Sy hande en voete te wees op die pad wat ons loop.

Gemaak as God se verteenwoordiger, daarvoor het Jesus ons amp herstel. Hy het die opstanding geword, om vir ons die lewe in oorvloed te gee. Elke dag se opstaan begin met die wete dat ons in Sy voetspore kan loop.

Daar is niks fout met ‘n eerste koppie koffie nie, maar gelukkig hoef dit nooit die enigste rede te wees om ons voete uit die bed te kry nie.

Ons kan opstaan omdat Hy ons krag gee.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories