Uitgemis
In die week voor Paasnaweek woon ek die opvoering van Fiela se kind in ons plaaslike teater by. Ek verstom my opnuut aan die kreatiewe gebruik van dekor om twee wêrelde op ‘n klein verhoog te skep. Ek pik selfs ‘n traan wanneer ‘Benjamin’ sy ‘pa’ omhels na al die jare se weghou. Die tonele roer my hart. Die ou bekende storie bring hede en verlede bymekaar.
Wat is die mens dat U oor hom sou dink? Die mens wat homself oor ander bly aanstel, wat maak en breek net soos hy wil.
Bosmense, bruin mense en regsgeleerdes. Die kind, agbare heer. Dowe oor vir ‘n ma se gepleit.
Op ‘n ander Vrydag hang drie liggame op ‘n heuwel naby die stad. Ver verwyderd voel die Hosanna krete van die week tevore. Mense skud hul koppe. Môre is hul spesiale dag. Die Sabbat word gevier. Die liggame ontwrig.
Fariseërs en skrifgeleerdes voel tevrede. Hy wou homself mos koning noem. Pilates was sy hande. Dan skeur die voorhangsel van die tempel en Jesus roep uit, dit is volbring. ‘n Offisier som op wat ander mis. Hierdie man was werklik die Seun van God. Die skare gaan verslae huis toe, sy vriende bly op ‘n afstand staan.
Wie was die man daar in die middel? Hy wat Fariseërs aanspreek as huigelaars. Wat sy dissipels leer van voete was, by tollenaars aan tafel sit en mense op ‘n Sabbatdag genees. Wat deernis het vir hulle wat swaarkry en kindertjies laat welkom voel. Wat uiteindelik moes uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat?
Werklik die Seun van God…Tog mis die skare, die feesgangers en Skrifgeleerders uit.
Hoe min verstaan ons steeds. Dat Jesus nie in ‘n godsdiens-boksie wou klim nie. Sy doel was soveel groter. “Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie maar om die wêreld te red”…die vertrekpunt van Sy reis.
Fiela se kind maak ‘n deernis in my wakker. Liefde wat oorwin te midde van onreg. Liefde in praktyk. Liefde aan ‘n kruis. “…want waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.”
Xxx
Paastyd: Kyk ek om my rond, is daar steeds van almal hier. Misdadigers, godsdienstiges, skares en werkendes, gelowiges en twyfelaars. Hulle wat huil, verslae staan, eenkant staan of met minagting kyk. “Wat is die mens dat U aan hom dink? Die mensekind dat U na hom omsien?”
“Dit is volbring”, het Hy geroep.
Waarlik, U is die seun van God.
Moenie uitmis, roep die kruis. Hy is nie in ‘n godsdiens-boksie nie. Sy bloed het ook vir jou gestort.