5 Jaar – vir Palmsondag

“Ek gee julle land 5 jaar,” het hy vir haar gesê. Vyf jaar vir wat, was my stille vraag? Vyf jaar om te verbeter of agteruit te gaan? Vyf jaar om ‘n verskil te maak?

In my 40 dae ‘Lent-voorbereiding’ vir Paasfees, was my ‘vas’, om alle slegte of negatiewe nuus uit my hart te haal, en dadelik voor die Troon neer te sit. In plaas daarvan om dit ‘n broeiplek van kommer te maak, was dit bevrydend om dit vir die Here te gee. Ek doen dieselfde met haar stelling: Vyf jaar, Here, maar ek draai dit om met ‘n verwagting. Wat wil U in hierdie volgende 5 jaar in ons land doen, en waar pas ek in die prentjie?

Op Palmsondag het ‘n skare mense ook ‘n verwagting van Jesus gehad. Uiteindelik is die Koning hier, Hy wat hul gaan red van die Romeinse verdrukking…of nie? In plaas van om ‘n swaard op te tel, gee Hy Homself vreedsaam oor. Het Hy sy vyande lief en vergewe Hy hulle wat Hom kwaad aandoen. Hy word die Koning wat vrede bring en versoening bevorder….Dis nie wat die mense verwag het nie.

Terwyl ek die verhaal in Matteus lees, val die gedeelte voor en na die intog van Jesus in Jerusalem op die donkie, my op. Op Sy reis daarnatoe, staan twee blindes langs die pad wat pleit vir Jesus se ontferming. Die mense probeer hulle stil maak, maar uiteindelik verwoord hulle wat ons almal dalk nodig het: “Here, dat ons oë sal oopgaan.” Dan kom hy Jerusalem binne onder Hosanna gejuig, voor Hy by die tempelplein stop. Dis hier waar Hy tafels omgooi, omdat hulle die punt mis…

Op hierdie mooi Sondag wonder ek wat beter is? Die blindes wie se oë oopgaan, die Hosanna sangers wat die intog beleef of die kerkgangers wat koop en verkoop. Waar pas ons verwagting in met wat Jesus in ons land moet kom doen? Die regering regruk, vyande vernietig en ander mense aan bewind sit? Vrede, roep ons floutjies uit. Soos ons dit wil…

Miskien is Palmsondag die geleentheid om ‘n tree terug te gee. Eerder maar soos die twee blindes voor Jesus neer te val. Voor ons hosannas sing met ‘n ander verwagting, voor ons koop en verkoop en onsself verontskuldig met wat ons reg doen. Dalk maar net moet vra: Here, maak my oë oop…

5 Jaar begin vandag. Dit begin by my. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur My Gees, sê die Here die Almagtige. Selfs die grootste berg sal ‘n gelykte word.” Sagaria 4:6

Here, ek dra vandag spesifiek ons land, ons regering en al sy mense aan U op. U ken ons harte en weet wat ons smag en waarna ons verlang, maar Here, U wat anders kyk en anders doen, maak ons oë oop dat ons soos U kan sien. Dankie vir nuwe geleenthede om om te gee en lief te hê, om op te bou en reg te maak. 'Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie,' fluister U saggies in my oor.

Palmsondag – “Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie…Die koning sal vrede vir die nasies afkondig en hy sal regeer van see tot see…” Sagaria 9:9-10

Maak ons oë oop dat ons kan sien.

Vyf jaar…ons verleentheid raak God se geleentheid. “Skep moed, burgers van die land. Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige…my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!” Haggai 2:4-5.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories