In His time…

Twaalf vroue op ‘n staproete. ‘n Unieke geleentheid waarna ek baie uitgesien het. Toe skeur ek ‘n kuitspier en ‘n maand later val ek hard op my heup. Met 5 weke voor die staproete pleit ek vir Sy guns. Om betyds te herstel. Nie net omdat dit ‘n pragtige staproete is wat ek nog altyd wou stap nie, maar ook vir my behoefte om bietjie saam met ander vroue te kuier. Werkende ma’s met kinders en studente, almal met dieselfde behoeftes. Tyd met mekaar en in God se natuurtuin.

In His time, He makes all things beautiful. Ek vat die woorde en skryf dit op ‘n klippie neer. Ek luister getrou na my fisio en vermy enige opdraendes. Ek neem kleiner tree en doen my strekke. ‘Here, 5 weke is wat ek het.’ Elke week skryf ek ‘n teks op ‘n klippie neer en pak dit met geloof in my rugsakkie. Teen week 4 waag ek vir die eerste keer weer ‘n opdraende. Ek haal verlig asem….in His time.

Die staproete vul ons sintuie met soveel mooi. Fynbosblomme, see- tonele, branders teen rotse, snorkel bederf. Skulpies op die strand. Voetspore in die sand. Ons word behoorlik bederf. Eet heerlik en kuier soos net vroue kan. Sonder tierlantyntjies. Op die eerste dag is ek bewus van my kuit soos ons die eerste bult aandurf. Gelukkig voel my heup goed. Verbasend genoeg voel ek daagliks sterker en loop uiteindelik sonder enige ongemak. Ek sing ‘n loflied en getuig van Sy getrouheid. By elke hut haal ek ‘n klippie uit my rugsak. Op die laaste dag haal ek die ankerklippie diep onder uit my sak uit: die een wat ek eerste geskryf het toe ek met verwagting gepleit het: “In His time He makes all things beautiful…” Dankie Here!

Die woorde word die anker in my huis. Om vas te hou aan Sy beloftes. Ook wanneer jou kind se hart seer kry en jy agter die skerms wonder wat om te bid. Dan onthou jy daar is ‘n God wat alles ten goede kan laat meewerk. Wat verder kyk as wat ons kan sien. Wat seerkry kan omdraai en harte genees.

Wanneer ek musiek begin uitwerk vir die gemeente waar ek bedien, word ek gelei na die teksgedeelte in Genesis, Josef se verhaal. Die ou bekende storie tref my opnuut. ‘n Jong 17-jarige seun wat deur diep waters gaan wanneer hy deur sy broers verkoop word as slaaf. Net wanneer dit lyk of dit beter gaan, word hy onregverdig behandel en beland hy in die tronk. Dis hier waar die woorde my tref. “Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind….” In die tronk. Ons ken die res van die verhaal. Hoe hy die skinker en bakker se drome uitgelê het en uiteindelik by die Faro uitgekom het om sy droom ook uit te lê. Hoe hy aangestel is oor die hele Egipte, die land bestuur het, mense gered het van hongersnood en later met sy broers en pa herenig is. ‘n Merkwaardige verhaal. God wat voorsien….in His time.

Kyk ek na my seerkry kind, sien ek reeds die krag in haar opstaan. Sy blom waar sy geplant word en reik uit na ander. Ek staan verstom.

Soms bederf die Here ons ‘betyds’ om te bereik wat ons voor hoop…soos die Walvis staproete saam met vriendinne. Ander kere beland jy dalk eers in ‘n put soos Josef. Waar dit voel of die lewe onregverdige draaie loop. Wat ‘n wonderlike wete dat die Here ook (juis) in die vallei oomblikke by ons is. Nie net wanneer ons die kruin bereik nie. Ons lees dat die Here die huis van Potifar geseën het. “Dit was oor Josef dat die Here dit gedoen het.” Ook in die tronk lees ons dat die tronkbewaarder hom goedgesind was. “Wat Josef ook al aangepak het, die Here het dit laat slaag.” In die tronk. Miskien moet ons daardie treetjie terug gee en begin soek hoe die Here ander om ons wil seën juis op daardie plek waar ons vertoef.

In His time He makes all things beautiful. Soms begin dit met ‘n klippie van geloof. Om jou begeertes vir hom te gee maar ook te vertrou dat hy alles ten goede kan laat meewerk. Mag ons die proses vertrou en waag om te blom waarheen die wind ons waai. Soms is ons blote teenwoordigheid bedoel om vir ander tot seën te wees.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap