Stilword in die maanlig

Ek het agter die bakkie met die waentjie beland. Ai tog, het my binneste gesug. Ek is eintlik ‘n bietjie laat. Toe die verkeerslig groen slaan, is dit dan ook so. Hy sukkel om weg te kom. Eindelik begin die bakkie stadig wegtrek. Moeisaam teen die bult op. Ek kyk belangeloos na sy voorraad op die waentjie. Daar is klomp kratte teen mekaar gepak. Dan sien ek al die groen korrels. Druiwe! Waarskynlik êrens oppad om verkoop te word. ‘n Sagte deernis skuif die haastigheid ‘n oomblik weg. Dis kosbare voorraad hierdie. Handgepluk.

My gedagtes draai na die politiek wat die media oorheers. Groot vuiste wat swaai. Wat links en regs afbreek en bevele uitdeel. Onder op die grondvlak werk mense hard vir hul brood. Is daar sweet en trane en kinders wat honger gaan slaap. ‘n Boer wil maar net van sy druiwe verkoop.

Die vorige week was ‘n woeste week. Nie net was dit druk besig by die werk nie, my man was ook uitstedig. Boonop moes die kinders op ‘n skooltoer vertrek waarvoor hulle die Vrydag 4h45 by die skool moes aanmeld. Ek staan toe maar 4h op, trek my oefenklere aan en gaan laai die kinders af. Kort voor lank vertrek die bussie. 5h15, vertel die horlosie my. Impulsief ry ek na die natuurreservaat. Dis nog donker maar daar is darem reeds 3 ander karre van stappers of drawwers. Met my kopliggie op, waag ek dit op die breë grondpaadjie. Tot my verbasing is my liggie onnodig. Die maan skyn helder op my pad en ek voel hoe die nagstilte saam met my stap. Êrens hoor ek ‘n uil roep. Selfs in die nag, bly ek bewus van Hom, weerklink Psalm 16 se woorde in my kop.

Ek beleef die sonsopkoms agter die berge en voel dankbaar. Vir vars lug en ritme in die natuur. Haal asem, fluister die wind. In die nou paadjie is dit later helder lig. ‘n Gesinnetjie wilde hoendertjies loop eet-eet voor my uit. Pappa, mamma en 4 kindertjies. Dis die kant keer en daai kant roep. Ongestoord stap hul voor my uit. Ek ‘pause’, en wag ‘n oomblik. Padblokkade, dink ek geamuseerd. Spitsverkeer hier in die bos. Wees stil en weet, hoor ek Sy stem.

Uiteindelik bereik ek weer my kar. My hart voel tevrede en my lyf ontspanne. Dankbaar dat ek ‘n oomblik van die buite jaag kon ontsnap.

By die huis kry ek onverwags ‘n boodskap. Luister na Retief Burger se nuwe lied, “Wees stil”, met ‘n link daarby. Wow. Dink ek. Presies wat ek vandag gekry het.

“Wees stil en weet Hy is die Heer, Immanuel God met ons.” Die Prediker sluit daarby aan: “‘n Hand vol met rus is beter as twee hande vol met moeite en ‘n gejaag na wind…”Dis nodig om balans te vind in wat ons doen, veral wanneer die lewe met ons wil weghardloop.

Wanneer ek dink aan die boer en my gejaagde dag, was elkeen oppad met ‘n ander doel. Tog het ons paaie vir ‘n oomblik gekruis. Was ek gedwing om stadiger te ry en die druiwe raak te sien. Wilde hoendertjies op my pad was die natuur wat saggies roep: Verander jou pas…

Wees stil en weet… vroegoggend toer ‘n bedekte seën. Maanligstilte was die hand vol rus. Baie beter as twee hande vol gejaag na wind.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories