Niks kan ons skei…
Waarom gaan sommige families deur soveel meer as ander, was sy worstel vraag in die lug. Rondom die vuur het die gesprek diep geraak. Sy ma was op die herstelpad van kanker, maar sy sussie was terminaal. Hy het reeds ‘n broer verloor in ‘n ongeluk jare gelede….die gesprek het stil geword.
‘n Paar weke later stap ‘n onbekende tannie by my spreekkamer in. Sy maak haar hart se deur op ‘n skrefie oop. Haar seun is laasweek dood…sy sukkel met haar maag, met ‘n veluitslag en om te slaap. Ek trek bietjies vir bietjies van haar storie uit. Die seun was maar 43. Haar dogter kry tans behandeling vir borskanker en syself is in remissie. Sy is bekommerd oor die jonger seun wat langpad moet bestuur. Hy sukkel om oor sy broer se dood te kom. Die gewig lê swaar op haar rug. Dit laai swaar af in die kamer. My hart is seer vir haar part. Ek het pilletjies vir slaap en ‘n maagseer, salf vir ekseem maar min woorde vir ‘n stukkende hart. Tog lyk sy ligter as sy uitstap en die ontvangsdame vriendelik groet…
Ek worstel met die feit dat ek sukkel om te hardloop na my val, dink ek amper skuldig.
Haar lewe moet nou rondom haar hardloop beplan word, het my comrades vriendin besef. Verstaanbaar wanneer jou prioriteite moet verander om marathon kilometers in te kry. Dit kos tyd en opoffering om die wedloop te voltooi. My lewe moet minder om my hardloop gaan, is my eie besef. Omdat dit vir so lank in my lewe my energiestafie was. Ek kry swaar wanneer my lyf nie wil saamwerk nie. Dit mag nie my alles wees nie, al mag dit ook belangrik wees.
Wat bly oor as jy gestroop word van dinge? Wat is belangrike waardes vir jou? Aan watter beginsels hou jy vas? Dis die vrae waarmee ds Gerhard Pietersen ons een Sondag konfronteer. Dan deel hy die woorde van ‘die deernis praktyk’, wat hul tydens ‘n evangeliesasie opleidingsessie oor elke kollega moes spreek. Dit was moeilik.
– Dis in my aard om siek te word. Ek sal dit nie vryspring nie.
– Dis in my aard om ouer te word. Ek sal nie ouderdom kan keer nie.
– Dis in my aard om te verander. Ek sal al my verhoudings en besittings uiteindelik moet prysgee.
– Dis in my aard om te sterf. Ek sal nie die dood vryspring nie.
Die woorde het hard getref. Nie net vir hulle nie, maar ook vir ons. Realiteitsbegrippe wat ons nie wou hoor nie. Hoe spreek jy dit oor iemand uit, was die vraag? Hy het die woorde afgehaal, iets bygevoeg en dit teruggeplaas. Skielik het die prentjie verander: nie noodwendig die situasie nie, maar die omstandighede was anders.
– Dis in my aard om siek te word. Ek sal dit nie vryspring nie. Niks kan my skei van die liefde van Jesus nie.
– Dis in my aard om ouer te word. Ek sal nie ouderdom kan keer nie. Niks kan my skei van die liefde van Jesus nie.
– Dis in my aard om te verander. Ek sal al my verhoudings en besittings uiteindelik moet prysgee. Niks kan my skei van die liefde van Jesus nie.
– Dis in my aard om te sterf. Ek sal nie die dood vryspring nie. Niks kan my skei van die liefde van Jesus nie.
Wanneer jy gestroop word van dinge en jou werklikheid verander, is dit nodig om te weet wat jou anker is. Die tema van die kwartaal se preekreeks sluit daarby aan. Om entrepreneurs van hoop te wees, moet jy leer om anders te kyk, anders te dink en te doen. Geleenthede raak te sien in die dinge wat vir die wêreld moeilik of onmoontlik lyk.
Ek kon min vir die tannie doen om haar seerkry te verlig, maar ek kon luister. Ek kon haar hand vat en in my binneste vir haar bid. Ook vir ons ander vriend wat worstel met die lewe se vraagstukke. Nie omdat ek al die antwoorde het nie, maar omdat ek iets van die deernis praktyk herken.
En myself? My eie sonsopkoms het skielik anders gelyk. ‘n Dankbaarheid het oor my gekom terwyl ek in die wandelpaadjie stap en Louis Britz se lied begin sing:
'U liefde kleur die blou, blou helder hemel,
U goedheid reis die dagbreek oor die see,
U almag blink in maanlig oor die berge,
Die skoonheid van U skepping sleur my meer...'
Sy ontferming is vir almal nuut, elke môre!