Wat laat jou slaap?
‘Hoe slaap ek vanaand?”, was haar bekommerde vraag. Die vraag wat my ook uit my slaap uithou.
Die volgende dag moes ek die nuus meedeel waarvoor sy angstig gewag het. Die ‘onskuldige’ knoppie was toe wel kwaadaardig. Stadium 3. Aggresiewe kanker. Hoe slaap jy as jy weet dat jou lewe môre verander? ‘n Normale ‘mamma-lewe’ van kosblikke inpak, werk toe ry, taxi speel en kosmaak verander in ‘n reis van oorlewing. Die rollercoaster wag nie. Jy moet klim om te oorleef.
In ‘n ander gesin verander ‘n pa se lewe wanneer beide sy kinders en sy vrou in ‘n motorongeluk sterf. Skielik weggeruk. Huldeblyke stroom in, maar êrens is daar iemand wat wakker lê…
Hoe slaap jy as die mat onder jou uitgetrek word?
Die tema van die preekreeks in ons gemeente, is hoe om met hoop te lewe. Hierdie Sondag is die opskrif: hoop te midde van angs. ‘n Vreemde konsep. Dan vind ons in Lukas 22 vir Jesus by die Olyfberg. Angstig vir die kruis-pad wat voorlê. Wat in sweet uitslaan en by sy Vader pleit vir die beker om verby te gaan. Op ‘n manier bemoedig dit ons dat die Here ook slapelose nagte gehad het. Ook gesukkel het met angs…Dis egter wát hy daarmee maak waarby ons kan baatvind. Hy leer ons om dit na die Vader te vat en om ons hart teenoor Hom uit te stort. Eerlik te pleit en te vra, al verander die uitkoms nie altyd nie.
As ‘n reel slaap ek ook nie goed nie. Êrens in die nag word ek gewoonlik wakker. Soms sommer net en ander kere wanneer iets my pla. Met tye word dit my kreatiewe uur waar blogs gebore word en redenaarpraatjies beplan word. Ander kere raak dit my stille gebeds- afpak uur. Waar ek dit wat pla uit my hart gaan haal en een vir een neersit. Bid en pleit en my kommer deel. Ek grawe tot ek weet wat my alles wakker hou. Dan word Psalm 16 deel van my storie. “Selfs in die nag bly ek bewus van wat Hy my leer.” Wanneer ek neersit kan ek uiteindelik omdraai en verder slaap.
Wat is die bron van jou krag en hoop as jy gekonfronteer word met moeilike dinge? Waarop steun jy as planne begin wankel? Dr Deon Foster daag ons uit om daardie dinge te identifiseer wat jy die moeilikste van afstand doen. Daardie uitlaatklep of anker waarsonder jy nie kan klaarkom nie. Beleggings, tyd, jou werk, hardloop, stap, fietsry, gesondheid. Wanneer jy gestroop word van alles, wat bly oor?
My kruk is defnitief om in die berge te vaar of net te gaan hardloop. Daarom dat ek ekstra swaarkry as ek dit nie kan doen nie. Dit bemoedig my dat Jesus ook graag opgestap het teen die Olyfberg “soos dit sy gewoonte was”. Te minste verstaan Hy iets van my hart…. Die belangrike punt is egter dat Hy daardie geleenthede gebruik het om tyd met sy Vader deur te bring. Ons ankers baat ons min as dit ons nie nader aan die Here bring nie. Ek moes opnuut leer dat my krag nie van die berge kom nie, maar van die Here wat die berge gemaak het!
Om te slaap of nie te slaap nie, is dalk irrelevant. Soms is die rede kommer, angs of sommer maar net. Jesus het met tye ook gesukkel om te slaap. Sy angs het hom wakker gehou. In die nagtelike ure het Hy sy Vader opgesoek en sy hart uitgestort. Ons mag ons angs en kommer saam met ons vat, ons mag selfs trane stort in die nag. Die geheim is met wie ons dit deel. Dawid het ontdek dat die Here altyd by hom is, ook in die nag. Daarom kon hy juig en bly wees. In sy nood was hy veilig by sy God.
Xxx
Ek het die nuus oorgedra en ons het hoop gekies. Sy het ‘n slaappilletjie gevra en ek het geweet dis ok. Daar gaan nagte kom waar sy wakker gaan bly en gaan sukkel met angs en bekommernis. Vir Jesus is dit nie vreemd nie. Ander dae gaan die son weer skyn. Sy genade is vir ons genoeg.
Te midde van ons angs, is daar hoop…daarom kan ons uiteindelik tog aan die slaap raak. Omdat Hy verstaan. Omdat Hý die beker gedrink het sodat ons veilig kan wees.
Vandag kyk ek nie net op na die berge nie. Ek weet waar my hulp vandaan kom. Van die Here wat die dag én die nag gemaak het.