Detail leef (terugblik op 2024)
“Ek het nooit geweet die berge was so grof nie.” Dit was sy woorde toe hy sy jaar se hoogtepunt moes beskryf. Die oogoperasie het sy wêreld verander. Hy kon detail sien.
Die stapper se droom was om die berg se piek te sien. Hulle het basecamp bereik maar alles was toe agter die wolke. Ook die volgende dag. Sy het hartseer geglimlag, totdat die Sherpa haar reggehelp het. Jy kyk te laag. Jy moet hoër kyk! Toe sy haar kop lig om verby die wolke te kyk, sien sy sowaar die Annapurna bergpiek wat uitsteek. Sy het die hoogte van die berg totaal en al onderskat.
Terwyl ek in die veld stap, merk ek die klein bossie pienk blommetjies naby die paadjie. Dis egter eers toe ek afbuk en van nader kyk, dat ek sien hoe kunstig dit regtig is.
Ek maak die volgende gevolgtrekking: Om die mooi in die lewe raak te sien, moet jy soms hoër kyk, ander kere dalk nader staan of dalk oorweeg om ‘n ander bril te kry.
Dis ou jaar en ek is op ‘n manier besig om terug te kyk. Dalk die vertrekpunt om juis vorentoe te kan kyk. Dankbaar dat ons die jaar gemaak het. Vir geliefdes om my, vir gesondheid, gawes en geleenthede. 2024 was my jaar van die Pieke, waar ek vele berge uitgeklim het en die top bereik het. Soms met die mooiste uitsig, ander kere uitsigloos, omring deur wolke. Daar was sonnige dae waar dit ‘n plesier was om bo te rus, maar ook ysige dae waar jy so vinnig moontlik afwaarts wou beweeg. Ek het meer bereik as waarvoor ek beplan het, meer mense ontmoet as wat ek verwag het en soveel meer van die mooi omgewing geleer. Dit was ‘n voorreg.
Daar was ook teleurstellings. Toe ek my hamstring ontydig getrek het en daarna ‘n kuitspier geskeur het. Tog het ek geleer om te doen wat ek kon met dit wat ek het.
In plaas van berge klim of drafpaadjies platdraf soos ek die vakansie beplan het, moes ek my teleurstelling in my sak druk en ander planne maak. Ek was steeds bevoorreg om die sonsopkoms te ervaar en het selfs gewaag om saam met my man te gaan fietsry. Wat ‘n bonus om die wilde perde te kon sien. Soms word jy gedwing om die lewe uit ‘n ander hoek te proe.
Met die vooraand van die nuwe jaar is dit my gebed dat die Here my sal lei om hoër te kyk wanneer ek teen die wolke vaskyk, sodat ek Hom kan raaksien. Vir wysheid wanneer om te stop om af te buk, sodat ek die mooi dinge langs my voete nie sal mis nie. Om deur Sy lens te kyk wanneer ek sukkel met die wêreld rondom my.
By die familie byeenkoms het my niggie se man ons uitgedaag om mekaar verantwoordbaar te hou in die jaar wat kom om doelbewus die goeie in ander te vind. Verder het hy ons gemotiveer om nie net die goeie raak te sien nie, maar om aan te hou om goed te dóén aan ander.
Ek groet 2024 met die wete dat daar elke dag ‘n sonsopkoms en ‘n sonsondergang was. Sommige het ek gevang, maar baie het ek gemis. Tog was hulle daar. Sy ontferming het nooit opgehou nie en sy genade was elke dag nuut. Daarvoor sê ek dankie. Ek neem die wete saam met my na 2025. Hy is reeds daar!
Kyk ek op na die berge, weet ek waar my hulp vandaan kom. Ek weet ook dat die berge regtig grof is. Nie net omdat my neef uit sy rolstoel dit van ver af kon sien nie. Ek het dit beleef.
Wat ‘n voorreg as jy detail kan lééf!