Goeie Nuus

Dit was drie dae voor kersfees. Stuur vir my julle goeie nuus, het ek gevra. Die familiefees was net ná kersfees en ek moes dit voorlees. Die nuus het traag ingekom. Ek het gewonder waarom. Was almal te besig? Vakansieplanne, kersvoorbereiding of dalk nog werk? Of was dit so moeilik om die goeie te vind?

Terwyl die Herders buite in die veld, in die donker nag, oor hul skape waak, verskyn daar skielik ‘n engel aan hulle. Eers stel hy hulle gerus dat hulle nie bang hoef te wees nie en dan gee hy die boodskap: “Ek bring vir julle ‘n goeie tyding…”

In my vakansie kom ek terug vir twee dae se werk. Ek geniet die aandjie by die huis en my kat is net so bly dat ek tuis is. Onbepland vang die Trailer van ‘n fliek my oog en begin ek dit kyk: The Six Triple Eight. Dis ‘n treffende fliek wat gebaseer is op ‘n ware verhaal tydens die tweede Wêreldoorlog. Dit handel oor die Amerikaanse slegs-swart vroue-weermag batteljon, die 6888ste, wat geminag word, maar uiteindelik die reuse taak kry om die agterstand van posaflewering tussen familie en soldate uit te wis. Dis ‘n merkwaardige verhaal wat daarmee erkenning gee aan ‘n groep dapper vroue, veral hul leier, Majoor Charity Adams, wat agter die skerms nie net hard moes werk om die soldate se moraal te lig nie, maar ook in die proses vir hul eie menswaardigheid moes veg.

Terwyl die fliek, met reg, die moeilike omstandighede, diskriminasie en innovering uitstekend uitlig, is dit by die agtergrond waar ek vir ‘n oomblik wil stilstaan. ‘n Ma wat desperaat wag vir nuus oor haar seuns. Een van duisende. Soldate in Europa wie se moraal al laer daal. Omdat hulle geen kontak met geliefdes het nie. Omdat die waarde van aflewering in tyd en geld gemeet is en duidende pakkies en briewe in pakkamers beland het. ‘n Minderwaardige, tog amper onmoontlike opdrag, met briewe wat beskadig is, onleesbaar of te min inligting gegee het van afsenders of bestemmings, asook uiterste koue en haglike omstandighede waaronder hulle moes werk, word met passie en vernuf uitgevoer. Die vreugde wat uitbreek wanneer soldate uiteindelik hulle briewe in ‘n rekord tyd ontvang, is hoendervleismooi!

Goeie nuus….te midde van donker tye. Die boodskap van die Engel. In ‘n donker nag lank gelede. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”

Wanneer een van my niggies uiteindelik ‘n boodskap stuur, begin sy met die woorde: “Ons het nie veel hoogtepunte nie. Ons het hierdie jaar oorleef, en dít voel soos ‘n hoogtepunt.” Die woorde tref my, omdat daar baie ander mense is wat waarskynlik ook so voel. Waar gesondheid, finansies, familiekonflik en ander stresfaktore die lewe moeilik gemaak het. Tog eindig haar paragraaf nie daar nie. Klein hoogtepunte word groot dinge wanneer sy dit neerskryf. ‘n Kind wat goed geslaag het, ‘n afgetrede ma wat oorweldig word deur aanlyn werksaanbiedinge, prestasie erkennings en passies wat uitgeleef kon word. Tot ‘n hondjie wat vreugde bring. Seëninge ingevleg. Goeie nuus te midde van…

Elizabeth se loflied in Lukas 1 besing onwetend iets van die Goeie Nuus wat ons moet hoor, veral wanneer oorlewing die grootste hoogtepunt van ‘n jaar is.

Soos die môreson sal Hy opgaan
En uit die hoogte op ons afstraal
Om lig te bring aan dié wat in duisternis
En in die skaduwee van die dood lewe,
Om ons voetstappe te rig op die pad van vrede.

Met kersfees wat lê tussen my versoek vir goeie nuus en die familiefees, is dit egter die boodskap van die Engel wat mý tot stilstand bring en rigting gee. Kyk, daar is die goeie nuus. Moenie bang wees nie.

Die soldate het nodig gehad om van hul families te hoor en families het gesmag na die handskrif van hul kind. Om die pos by die regte adres te kry was ‘n uiters belangrike taak.

Mag ons in hierdie tyd tot stilstand kom. Die brief ís afgelewer. Mag ons dit uit die posbus haal en lees. Ek bring vir jou goeie nuus. Ook daar waar jy dalk in die nag waak oor jou skape, oor dit wat jou bekommer en keer dat jy kan slaap. Goeie nuus. Die verlosser ís gebore.

Dis kersfees.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories