Moenie ophou
Trompet en tromboon het in die straat weerklink. Amper soos die Kaapse klopse, net met kersliedere. Die musiek het mense uit hul huise gelok. ‘n Groepie musikante in bloupakke, rooi pette en tekkies het jou begroet. Later het ek gelees dat dit die Robertson Old St Blues orkes was. Die musiek was ongevraag en amper ontydig op ‘n Saterdagmiddag. Ek het die skottelgoed gelos en ook gaan kyk. Iets in hul eenvoud was vir my mooi. Kersfees om die draai.
‘Hoe gaan dit met jou kerk?’, het ‘n man vir die pastoor in Nieu-Zeeland gevra. ‘Die kerk het irrelevant geword’, was sy hartseer antwoord. ‘Dit gaan te goed hier…’ Skielik was die besoekende prediker dankbaar dat dit nie so goed gaan in sy eie land nie…omdat ons daagliks herinner word hoe nodig ons God het.
Jesus herinner ons in Johannes 12 dat Hy as die lig na die wêreld gekom het, sodat díe wat in Hom glo, nie in die duisternis sou bly nie. Geloof is die issue….want geloof is ‘n vaste vertroue in die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van dinge wat nie gesien word nie. (Hebreers 11:1) Om te glo dat die wêreld deur die woord van God geskep is. Die ironie is dat die mens soekend bly na lig, maar dit nie vind nie. Hulle bly honger, al eet hul. Dors, al is daar genoeg om te drink. Hulle bly soekend, al kan AI alles beantwoord. Wat hoop mense nog, wonder ek vir ‘n oomblik…
In Betlehem word ‘n baba gebore. Amper weggesteek in die chaos van die politiek van daardie tyd. Josef en Maria het moontlik ook getwyfel oor die tydsberekening van die geboorte. Geen plek in ‘n herberg. Ver weg van haar tuisdorp. ‘n Klein groepie vreemde uitgesoektes word die getuies daarvan: Herders van die omgewing. In dieselfde hoofstuk in Johannes verduidelik Jesus dat ‘n koringkorrel eers begrawe moet word en sterf, om uiteindelik ‘n groot oes te lewer. Die wêreld sukkel om die omgekeerde proses te verstaan. ‘n Verlosser gebore in ‘n stal…
In dieselfde kusdorpie waar die musikante se kersliedere weerklink, is studente agter die skerms besig met Stranddienste. Hart en siel word ingesit om ‘n klein groepie kinders by die poppekas te bereik. Hul speel speletjies met laerskoolkinders en hou jeugaande in die kerksaal. Klein koringkorreltjies word begrawe, saadjies word gesaai. Bou die koninkryk, is die tema.
Jesus self word nie ontmoedig nie. “As iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red…” Johannes 12:47.
Moenie ophou om goed te doen nie, is Dawid se opdrag in Psalm 37. Speel kersliedere in die strate op ‘n Saterdagmiddag. Wees kerk in ‘n land wat lyk of hy jou nie nodig het nie. Hou aan met poppekas en om met kinders te speel. Ons het minder perfeksie in die wêreld nodig, en meer “realness”. Soms is dit juis in die ontydigheid van dinge, waar harte aangeraak word.
Waar jou lig irrelevant voel, is dit die sout tussenin wat die geur bring. Dalk kyk ons te veel deur veroordeel se lens. Na die wêreld wat sukkel om te glo en wat nie weet wat om voor te hoop nie.
As ons die koringkorrel plant, hoop ons op ‘n oes. Wanneer ons saadjies saai, glo ons iets sal opkom. Waarop hoop ons, is die vraag dalk vandag vir die een wat glo? Tussen al die slegte nuus, politieke onsekerheid, klimaatsverandering, siektes, wêreldgebeure en te veel mense wat nie glo nie, raak ons self maklik verstrengel. Trap ons dalk so hard om kop bo water te hou dat ons vergeet wat ons hoop.
Geloof is om seker te wees van dit wat ons hoop. Ons glo dat Jesus gebore is, ons verlosser. Ons glo dat Hy aan ‘n kruis gesterf het, opgestaan het uit die dood en opgevaar het na die hemel. Geloof hou ons staande en Hoop laat ons met verwagting leef. “Ek het die wêreld klaar oorwin.” Johannes 16:33 “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Johannes 3:16. “En dit is die ewige lewe: Dat hulle U ken, die enigste ware God…” Joh 17:3
Ons hoef nie alles te verstaan of alles te weet nie. Ons word ook nie uit die wêreld geneem nie maar geroep om hier aan God toegewy te wees (v17). AI kan baie antwoorde gee, maar ons nie met hoop vul nie. Ons kan baie medisyne gee, tog kan ons nie harte genees nie. Ons kan ouer word, plooie minder maak en grysheid wegkleur, maar steeds nie die dood vryspring nie. Die hoop waaraan ons vashou is soveel groter as wat die wêreld kan bring, ongeag van die land waar ons bly. Dit gee vrede wat alle verstand te bowe gaan. Omdat ons glo.
Daarom mag ons sing. Op ‘n Saterdagmiddag musiek maak met ‘n trompet en tromboon. Kerk wees in ‘n donker land en ‘n land wat sukkel. Poppekas hou. Kersfees vier.
Moenie ophou nie.
Tydig is nooit ontydig nie.