Genade
Haar lyf het begin ruk. Ek het gesien dat sy snik van dankbaarheid. Sagte trane het by haar man se wange afgeloop. ‘Thank you, Lord’, het hy geprewel. Na twee miskrame was daar uiteindelik ‘n hartkloppie!
Genade. Wanneer jy veilig by jou bestemming kom. Wanneer jou kind goed slaag. Wanneer jy kan opstaan met nuwe krag. Wanneer daar op ‘n dag ‘n hartjie klop.
In dieselfde week van die goue oomblik, vier ek my gradeplegtigheid en huweliksherdenking. Beide 27 jaar…Twee vaar beter as een, lees ek in Prediker. As die een val, kan die ander hom ophelp. Die uber-drywer vertel in die week van die twee ongelukke waar hy verby gery het, en noem terloops dat hy nie net ry om mense by ‘n bestemming te kry nie, maar sodat ander ook veilig is. Die lewe gaan nie net oor jou nie. Gawes is gegee vir ‘n rede. Om die lewe vir ander beter te maak.
Stefan Joubert herinner ons in ‘n E-kerk boodskap dat ons liggame ‘n tempel van God is. Dit beteken dat die Here in ons bly. Dat die wêreld nie meer na ‘n kerkgebou hoef te gaan om iets van God te beleef nie, maar dat tempels as’t ware tussen hul beweeg. Wat ‘n geleentheid vir ons…maar ook ‘n groot verantwoordelikheid.
Jesaja skryf dat die Gees van die Here oor hom gekom het om ‘n blye boodskap te bring….om aan te kondig dat die tyd gekom het waarop die Here genade betoon. Hy noem ons bome van redding, geplant om sy roem te vermeerder. (Hoofstuk 61). Ongeag watter tyd van die jaar of seisoen ons beweeg, of dit ou jaar raak, kersfees op die horison verskyn of bloot net nog ‘n dag is. Waar ons beweeg moet ons ‘n baken van hoop bly.
Wanneer ek weer ‘n staproete saam met ‘random’ stappers aanpak, bly dit vir my ‘n voorreg om na ander se stories te luister. Dis nodig om so nou en dan uit jou ‘comfort zone’ te beweeg. Hoe anders sal jy hoor van die vrou wat stap omdat haar man 5 jaar gelede verlam geraak het in ongeluk. Wat nie jammerte soek nie maar êrens ‘n stukkie van haar reis kan deel wanneer jy vra. Dalk nodig vir haar om daaroor te praat, terwyl jy minder sug omdat jou man net ‘n knie het wat pla… Stories gee ons perspektief. Dit laat ons wegkyk van onsself en ander raak sien.
Zantie Swanepoel vertel hoe iemand gekeer is om selfmoord te pleeg nadat sy met ‘n berader oor ‘n hulplyn gepraat het. Toe hulle later by haar wou uitvind watter raad haar van plan laat verander het, verras haar antwoord. Dit was nie wát hy gesê het nie, maar die feit dat iemand bereid was om na haar te luister….
Soms is luister al wat ons kan doen. Is ons dalk die boom wat skadu gee vir iemand wat moeg is.
Nie alle sonars wys ‘n hartjie wat klop nie. Die volgende dag moes ek die slegte nuus aan ‘n ander mamma deel…haar trane was hartseer trane. Hier kon ek net skadu bied en rigting wys. My woorde was min..
Twee vaar beter as een. As die een val, kan die ander hom ophelp. Hy’t my gestuur om die wat moedeloos is, op te beur en om die blye boodskap te bring. Die tyd het gekom dat God genade betoon… Dis ons boodskap vir die wêreld in hierdie tyd.
Genade. Vir hulle wat juig maar ook vir hulle wat treur.
‘n Kind is vir ons gebore. Hoop in ‘n krip. Genade deur ‘n kruis. Kersfees.