Pak op
Ons het die boks by hom neergesit om sy klere in te pak. Hy het versteen voor die kas bly staan. ‘En nou pa’, wou ons weet. ‘Ek weet nie wat om in te pak nie’.
Pak op
Pak op
Sit jou goedjies
Op jou kop
Môre gaan ons weg
Ver van hier weg
Skipskop se liedjie het in my kop gekom. Dis nie maklik om na 24 jaar op te pak en te trek nie, veral nie as jy 83 jaar oud is nie.
Laat daardie aand het ek en my ma op ‘n sak met handsakkies en deftige handskoene afgekom. Sy het ‘n lang swart handskoen aangetrek en dromerig vertel van die aandfunksies wat hul bygewoon het. Onder in die sak het ‘n blink boksie verdwaal gelê. Dit was ‘n ou skeermes van haar pa. By dit was die band wat hy gebruik het om die skeermes te slyp. Sy het teen die kas gaan staan en gedemonstreer hoe haar pa dit gedoen het. In daardie oomblik het ek besef hoekom ‘n mens soms vashou aan goed. Nie omdat die voorwerp soveel beteken nie, maar omdat dit jou terugneem in tyd en na stories, sodat jy dan eendag, meer as 50 jaar later, ‘n stukkie kosbare herinnering met jou dogter kan deel. Sy was maar 24 toe haar pa dood is.
'n Stukkie lê hier
En 'n stukkie lê daar
Die stukkies van my lewe
Hulle lê baie deurmekaar.
My pa het uiteindelik sy klere in ‘n boks gepak. Hy het broeke ontdek wat hy nie eers van geweet het nie.
Vroeg daardie oggend het ek my tekkies aangetrek om die sonsopkoms te beleef. Ek het geweier om te dink dat dit die einde van ‘n era was vir my ouers, eerder die begin van ‘n nuwe hoofstuk. Die son het ryk en warm sy kop agter die berg gelig en sy strale het oor die see geblink. Vars genade, het ek besef. God se grootheid het weerklink. “Die weelde van die Heer, geklee in majesteit, die hele aarde juig. Hy klee Homself met lig, en duisternis moet vlug, begin en die einde…” Begin en einde, het die woorde in my kop gemaal. So is elke hoofstuk in ons lewens.
Maar wat ken ek anders
As die bloudam se branders
Die wolke en die winde
Wat hier waai...
Ons het die klere net so in die kaste gaan hang en my ma se wastafeltjie het ‘n plek gekry in hul nuwe huisie. Blikkieskos het in rye in die nuwe koskas gepas. Genoeg bakebeans vir ‘n lang tyd. Op die stoep het die klein bankie ‘n lê-plek gekry. Hier sal hul in die oggend kan sit met ‘n beker koffie in die hand, kan opkyk na die berge, en onthou waar hul hulp nog altyd vandaan gekom het. Van díe Here, wat hemel en aarde gemaak het. Die Een wat van die begin af daar was, wat oor seisoene loop, en deel is van elke nuwe hoofstuk.
My pa het sy klere in die nuwe kas uitgepak. Daar was meer as genoeg plek vir sy goedjies. Net nie vir al sy boeke en garage goeters nie. Daarvoor sou die tyd maar leer. Vir nou, het hul mekaar. Ietsie van gister en ‘n stukkie môre.
'Seblief meneer
Ag sê my tog weer
Is dit die pad wat ons moet
Môre vat
Op die rots het ‘n bossie pienk malvas geblom. “Bring my op ‘n rots waar ek veilig sal wees.”, het die Psalmdigter gepleit. “U is vir my ‘n toevlug, ‘n sterk vesting…” Ongeag hoe oud of jonk, of ek my goedjies pak of net daar bly, die beginsel bly dieselfde: “Laat my by U ‘n blywende tuiste vind.” Psalm 61. Die geheim van die lewe met al sy wisselende seisoene. ‘n Ewige tuiste in die Vader se hand.
Verkoop jou bootjie
Pak op jou goedjies
Sê maar so long Skipskop
Skipskop sê goodbye.
Ons mag ons aardse wonings groet, ‘n nuwe hoofstuk begin of dalk ‘n ander seisoen betree. In ons Vader se oë, is ‘pak op’, nooit goodbye…