Die antwoord
Hy was maar 14 jaar oud toe hy raakgesien is op die X-faktor verhoog. “Hulle sê ek het die x-faktor, maar ek weet nie juis wat die beteken nie”, het hy met ‘n seunsagtige glimlag gesê. Hy het deurgedring na die volgende rondte, maar Simon Cowell was nie oortuig nie. ‘Kom terug as jy 16 is…” Die jong tiener het terug gekom. Hy het sy droom gevolg en uiteindelik deel geword van ‘die boy’s band’, One Direction. Die res is geskiedenis. Op 31 sterf Liam Payne in ‘n tragiese voorval aan intoksikasie en veelvuldige beserings. Sharon Osbourne, een van die X-faktor beoordelaars van daardie reeks, maak die dapper stelling dat die musiekindustrie hom in die steek gelaat het. “You were just a kid when you entered one of the toughest industries in the world.” Die gevolge van roem….
Met die skoknuus van ‘n bekende paartjie wie se paaie skei, is daar net soveel opinies. Niemand het dit sien kom nie en die meeste mense is hartseer daaroor. Om in die openbare oog te wees is nie maklik nie. Mense plaas jou op ‘n troontjie en tog raak die persoon eensaam in daardie boksie. Weet ons min van dit wat regtig agter die skerms gebeur. ‘Wie gaan die huis kry?”, lees ek ‘n opskrif raak. Wat het dit met ons te doen, wil ek stilweg weet.
Hoe bly ‘n mens staande, is my gedagte, wanneer jy een van die hoë bome is wat die wind moet trotseer. Ek vra ‘n vriendin se opinie. Iemand wat self ‘n akrise was, gereeld motiveringpraatjies doen en dikwels op tydskrifte se voorblaaie verskyn. Sy noem dat haar familie se liefde haar anker. Mooi mense langs haar pad wat haar herinner waar sy vandaan kom. Sy het geleer dat geleenthede kom en gaan. ‘He gives and He takes.’ Wanneer jy besef dat die lewe nie oor jouself gaan nie verander jou, ‘Choose me Lord’ na, ‘I would love You to choose me..’.Dan sien jy die groter prentjie raak. Soms is jy Sy instrument maar ander dae kies Hy dalk om iemand anders te gebruik.
Hoë bome vang die wind, maar daar is ook ander gevaarlike plekke. Mense wat in hul gemaksones op hangmatte beland. Wat lui en tevrede raak en ongemerk lou en koud. Bome val as die wind kwaai waai, maar hangmat-drywendes raak vas aan die slaap. Soms is dit gevaarliker om weg te dryf as om te val….
Lees jou Bybel, bid elke dag. Die kinderliedjie van ouds met groot waarheid. Die boodskap is eenvoudig: Kweek goeie gewoontes… Plant jou boom langs die water. Dis wat dit beteken as jy daagliks tyd maak om Sy stem te word. Stoot jou wortels na die stroom, sê Jeremia 17. Die geheim van groen blare in droogte tye.
Roem en bekendheid kom met ‘n prys, maar geloofsankers hou jou op die grond. Weet waar jy vandaan kom. Onthou die groter prentjie. Steek gerus jou hand op dat Hy jou gawes kan gebruik. ‘Blessed to be a blessing…”Wees waaksaam vir die hangmat van gemak. Waag dit om uit te klim sodat jy nie aan die slaap gevang word nie. Lees jou Bybel, bid elke dag, die goue draad vir elke fase in ons seisoen. Maak dan nie saak hoe oud of jonk jy is nie, as die stormwinde waai, sal dit jou rigting gee in die lewe. Jou help om jou kop op te tel en op te staan wanneer jy geval het.
Die musiekindustrie was nie die enigste sondebok nie. Die ankerloosheid van gemeenskappe maak dat mense die sin van die lewe verloor.
Lees jou Bybel, bid elke dag. Maak tyd om Sy stem te hoor.
Die antwoord.