Koffiebone

Hy het ‘n aartappel, ‘n eier en ‘n klomp koffiebone elk in ‘n pot gesit, met water gevul en dit vir 20 minute laat kook. Daarna het hy die aartappel uitgehaal, toe die gekookte eier, en uit die derde pot, die water met koffie in ‘n beker gegooi. Toe verduidelik hy vir sy dogter wat die eksperiment geleer het. Al 3 was aan dieselfde omstandighede onderwerp, maar die uitkoms was verskillend. Die harde aartappel het sag geword, die brose eier hard, en die koffiebone het in geurige koffie verander. Die vraag was: hoe laat jy jou deur omstandighede verander?

Die gasspreker van die aand, ‘n oud dux-leerder van die skool, Dr JC Schoeman, lei daarmee sy inspirerende toespraak in. Die illustrasie is treffend, veral wanneer hy later na sy eie genetiese sig-gebrek verwys. Hy moes kompenseer vir ‘n oog probleem deur goed in die klas te luister en sy waarnemingsvermoë so aanpas dat hy mense kan herken. Hy moes leer om beter te beplan om take betyds te voltooi en by plekke uit te kom, omdat hy steeds nie mag bestuur nie. Ook moes hy leer dat daar tye in jou lewe kom, waar jy moet vra vir hulp.

By die akademiese prysuitdeling is prestasie aan die orde van die dag. Harde werk word beloon met onderskeidings, sertifikate en erkenning. By tersiëre instellings, waarsku die doktor, raak die gaping tussen harde werk en erkenning al groter. Raak jou intrinsieke dryf noodsaaklik om jou vorentoe te stoot.

Die hele week vul die toespraak my gedagtes. Aartappel, eier en koffiebone. Die geheim lê in die intrinsieke dryf en uiteindelik wat jy jou binneste voer. Spreuke 4 sê nie verniet: “Wees versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe!” Paulus waarsku dat jy jou hart ten alle koste moet beskerm. Terwyl ek die Sondagoggend regmaak vir kerk, luister ek na ‘n mooi program op RSG. Dit sluit aan by die boodskap wat ek later in die kerk kry, en trek ook ‘n lyn deur na my stiltetyd van die week. Dit raak uiteindelik soos ‘n driehoek waar ek besef hoekom ons verskillende dinge in ons geloofspad nodig het. Stilwordtyd, gemeenskap van gelowiges en goeie luisterkos. Ek glo dat die Here boodskappe in my hart versterk wanneer ek my oopstel om te luister.

So dikwels het ek al die krag van ‘worship’-musiek in my eie huis beleef. Wanneer my kinders sommige oggende moeg en krapperig in die kombuis verskyn, is dit juis die musiek wat ‘n draaipunt veroorsaak. Ongemerk begin hulle saam neurie en kort voor lank lyk en voel almal beter. Die teenoorgestelde is ook waar. Hoe meer jy jouself blootstel aan slegte nuus, hoe meer angs ervaar jy. Hoe meer angstig, hoe negatiewer raak jy. Die ironie is dat ons dikwels min beheer het oor helfte van die dinge wat ons angstig maak.

Dit bring my terug by die vraag: Wat maak dat mense in dieselfde omstandighede anders kan dink? Wat is die intrinsieke faktor wat jou vorentoe dryf?

“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.” 2 Tim 1:7. Daarin lê die antwoord. Die sleutel vir Jesus se opdrag dat ons sout vir die wêreld moet wees. Omdat omstandighede nie ons lot mag bepaal nie. Sy teenwoordigheid is die rede hoekom ons anders na dinge kan kyk.

JC se pad was nie maklik nie, tog het hy die beste van ‘n slegte saak gemaak. Agter die skerms was daar waarskynlik ouers wat hom aangemoedig het en onderwysers wat hom ondersteun het, maar uiteindelik moes hy ook in homself glo. Hy het die pad van die koffiebone gekies en merkwaardig uitgestyg bo sy omstandighede.

In die kookwater tye van vandag, moet stilword tyd ‘n prioriteit raak. Sif waarna jy luister en kies goeie geloofsvriende. “Bewaak jou hart meer as enigiets wat bewaar word, want daaruit ontspring die lewe.” Spreuke 4:23. ( 2020-vertaling)

Die geheim van koffie….

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories