19 jaar oud

Drie ure 19 jaar oud. Die opskrif ontstel, veral wanneer jy lees dat ‘n 19- jarige in die vroeë ure op sy verjaarsdag beroof en vermoor is. Oppad terug na sy woonstel. Die aangeklaagde is ook 19 jaar oud. Ek ken nie een van die seuns of hulle familie nie. Ek weet ook niks van hulle omstandighede, of agtergrond af nie. Al raakpunt is dat ek ook ‘n negentienjarige student het op dieselfde dorp.

My hart en verstand worstel vroeg reeds met die verdriet van ouers en vriende en die onnodige wreedheid van die voorval. Waarom, bly die onbeantwoorde vraag. Hoekom hy? Op sy verjaarsdag. Stilte. My gedagtes dwaal terug na die jaar toe ek ook ‘n negentienjarige student was. Een van my klasmaats het daardie jaar oppad terug Universiteit toe, verongeluk. Met haar roudiens, het die dominee uit Prediker gelees. Ek onthou dit soos gister. Die boodskap was vir ons wat lewe. Ek het gesukkel om dit te verstaan. Wat van haar, wou ek weet, wat ook nog wit klere sou wou dra? “Eet jou brood met vreugde, drink jou wyn met ‘n bly gemoed….” Die vers daardie dag.

Vandag verstaan ek beter. Dat daar nie altyd antwoorde is op slegte dinge wat gebeur nie. Ons kan nie alles keer nie. Ons is bloot nie in beheer nie. Binne-kring troos lyk ook anders as buitekring troos. Vir hulle is die pad anders, het woorde minder waarde en is bosse blomme nie meer ‘n teken van lente nie. Vir ons in die buitekring, is dit egter ‘n ‘wake up call’ wat ons moet hoor. Dat ons lewens nie ‘untouchable’ is nie, maak nie saak hoe oud of jonk of hoe onregverdig en ondenkbaar dinge soms is nie.  Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, Prediker se raad. Eet jou brood met vreugde. Maak skatte in die hemel bymekaar. Wees vandag seker van Jesus. Dis die beginsels wat ons moet vat en vir ons kinders moet leer. Vandag nog.

Ek kan nie help om aan beide gesinne te dink nie. Hoe graag sou die een nie eerder hul seun geluk wou gewens het met sy verjaarsdag, eerder as om die slegte nuus te moes hoor nie. Negentien jaar geleen…Hy het met toewyding geleef. Doelgerig en gefokus. Tot laat in die nag nog geleer. Sy eerste jaar amper verby. Nou pak hul sy goedjies op. Dit breek my hart.

Dan onthou ek die ander seun. Wat op straat gewag het vir ‘n prooi. Is daar ook ‘n ma wat oor hom huil en pleit? Wat wakker gelê het in die nag en dalk gewonder het waar hy slaap? Twee negentienjariges op straat. Twee lewens vernietig. “Absalom, my seun, my seun, ag, as ek maar in jou plek kon gesterwe het.” Dawid se trane oor sy kind…Die goeie en die slegte.

Here, vandag bid ek vir beide hierdie ouers en vir ‘n jong man agter tralies…

En ons Here? Leer ons vandag hoe om te lewe. Om U te kies. Help ons om die dag van klein dingetjies nie gering te skat nie…die blomme in die veld, geliefdes om jou tafel. Om ons brood met vreugde te eet…in ‘n lewe wat tot niks kom nie, maar wat God ons in hierdie wêreld gegee het. Prediker 9:9

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories