Ouer word voorreg

” Do not regret growing older, it is a privilege denied to many…” Richard Gere

In die week van my verjaarsdag is dit hierdie woorde wat my tref, en op ‘n manier herinner dat ouer word ‘n voorreg is. Dat jy ‘n mylpaal bereik het wat vir baie ander, nie beskore was nie. By die werk word ek geluk gewens en iemand noem terloops dat ek nou ander kant toe klim. Ten minste klim ek nog, dink ek met ‘n glimlag!

‘n Getal het my nog nooit bedreig nie en ‘n verjaarsdag bly vir my ‘n dankbare dag. Geskenke raak minder belangrik en tyd met geliefdes het meer waarde. My dogter se speldekussing-blomme, seun se lang brief en tweeling se handgemaakte kaartjies beteken meer as duur edelstene. Om langs my ma in ‘n teater te sit terwyl ons na ou liedjies luister in die Woordfeesvertoning, Verlangebos, druk stempels vas van kleintyd se saamsing tye. Ek bêre dit in my hart se kamers vir eendag se onthou.

Daar is verseker dinge wat ek graag beter sou wou doen, soos om steeds vinnig te kon hardloop, ‘n halfmarathon onder 2 ure te kon doen en hokkie te kan speel sonder die skadu van ‘n ontydige hamstring besering. Tog is ek dankbaar vir sterk bene en genoeg asem wat my nog bergpieke laat klim. Knieë wat kan op en af en my enkels wat hou. Op ‘n manier geniet ek hierdie ‘seisoen van waardering’, soos ek dit noem. Ek jaag ‘n bietjie minder en pause meer gereeld. Tyd op my horlosie raak minder belangrik. Ek hardloop lankal nie meer vir ‘n wedloop, ‘n T-hemp of ‘n medalje nie.  Ek hardloop vir die sonsopkoms, die vars lug en omdat ek nog kan. Sommige dae is “‘n bietjie iets”, beter as “‘n bietjie niks”.

Ek lees in Spreuke 14 dat ‘n verstandige mens elke tree oorweeg wat hy gee, hy is versigtig en vermy die kwaad. Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word, wie wysheid kortkom, is roekeloos en selfversekerd…(v15 en 16). Daar is voordele aan ‘n bietje ouer wees…

Met my vorige verjaarsdag het ek die wenk gekry dat selfs al kry ons dit nie reg om tyd te troef met al ons pogings van jonger lyk en voel nie, ons vrede kan vind in die wete dat God in Christus, tyd getroef het. Die wete bevry my wanneer ek besef dat mý tyd, Sý tyd raak en dat hierdie tyd, die regte tyd in Sy hand is.

Of jy 50, 60 of 80 is, dis presies die tyd waar jy nou moet leef. Ons mag terugkyk en so nou en dan tyd spandeer in Verlangebos, maar waar jy nóú is, maak jou ‘uniek bevoorreg”. Dis waar jy ervarings kan deel, saadjies kan saai en blom in dit wat jy bedoel is om te wees.

Mag ons beweeg solank ons kan, ander raaksien en vashou aan geloof. Mag ons die sonsopkoms vandag waardeer. Hoopvol lewe. Aanhou strewe om die mooi te soek.

Bedoel om vandag te lewe, ongeag die nommer langs jou naam.

'n Bietjie meer tyd om Hom te loof,
te groei in my geloof.
'n Bietjie meer tyd om Sy liefde vir my,
te deel en te bely

Dalk waarvoor ouer word bedoel is…en uiteindelik die wete: dis ‘n voorreg wat vir baie ander nie beskore was nie.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories