13 Pieke plus
Op ‘n ‘random’ Saterdag in September, voltooi ek die 13 Pieke-challenge saam met 10 ander stappers. Die challenge was eers net ‘n gedagte maar toe dit op my pad beland, het ek besluit om die geleentheid aan te gryp tot die beste van my vermoë. Danksy wonderlike leiers agter die skerms, was daar gereeld ‘catch-up’ groepe waarby ‘n mens kon inval. Die uitdaging van die challenge is nie net dat jy al die pieke moes klim nie, maar dat jy dit in volgorde moes doen, en begin waar jy die vorige keer geëindig het.
Ek was nie bang vir stap, uithou, klim en klouter nie, dit was eerder ‘tyd’ wat die grootste uitdaging was. Gelukkig het die weer, sport en gesondheid so uigewerk dat ek die volgorde kon behou. Wat ek gekry het was soveel meer as waarvoor ek begin het. Buiten die T-shirt, was dit kennis oor Tafelberg en sy omringende pieke, verruklike natuurskoon, vriendskappe en hoop vir ons land, deel van die pakket wat ek gekry het. Jy kan eenvoudig nie beskryf hoe mooi God se ‘kunskafee’ (soos Laurika Rauch dit beskryf), is wanneer jy tussen fynbos en ongerepte natuurskoon stap met Leeukop in die verte en die blou see as agtergrond nie. Dan ontmoet jy ook ‘n verskeidenheid van mense van alle rasgroepe en kulture, fiksheidsvlakke, vermoëns en beroepe. Ons kleur mekaar se lewens in met stories en staaltjies. Deel energiestafies, biltong en ‘n ekstra beketjie koffie vir die koue. ‘Step by step we’re moving forward’, word ons almal se lied as ons bult op klim teen die steil helling. Uiteindelik kom almal bo. Bewonder ons saam die uitsig. Raak die prestasie ewe besonders wanneer ons die piek bereik. Elkeen met sy eie rugsakkie, tog saam op die kruin.
My gedagtes loop na die afgelope para-olimpiese spele. Ek sien hoe die jongman sy 1 kruk neergooi. Dan die ander kruk en homself op 1 been balanseer. Terwyl die skare motiveer begin hy hop, hop aanstryk na die hoogspringmat. Een stewige tree, dan lig en spring. Oor die lat! Die skare juig. Merkwaardig! By die swemafdeling sien ek hoe atlete met rolstoele ingestoot word. Een ry op sy eie met ‘n klein scooter. Sommige word in die water ingehelp, ander bly op die kantlyn. Sommige het verwronge armpies, kort beentjies of afwesige ledemate. Die spektrum is wyd. Die skoot klap en elkeen spring weg op sy manier. Jy verstom jou aan hul vermoë om bo te bly en vorentoe te beweeg. Later die dag omhels ‘n goue atleet sy familie en afrigters. Dis sy ma wat hom ekstra styf vasdruk en in daardie oomblik besef ek die grootheid van hierdie medalje. Nie net vir die atleet nie, maar vir geliefdes wat net so ‘n lang pad saam gestap het. Aanvaarding van ‘n disability, trane afvee, aanhou hoop, aanhou glo. Die beste maak van ‘n slegte situasie. Finansiële uitgawes. Tyd, tyd, tyd. Aanhou probeer, nooit moed opgee….daarvoor ‘n medalje!
Dit bring my terug na my pieke maar eintlik vat dit my na die lewe. Waar almal êrens in hul lewens ‘n berg of dalk ‘n paar, moet klim. Ons lewensstorie word in daardie pad geskryf. Dit raak camino stories want die kuns lê in laste afgooi, jou sorge ‘n oomblik neer sit wanneer jy na ander se stories luister, en dan, tree vir tree, vorentoe beweeg. Soms ontdek jy net dinge as jy ‘n bietjie uitvrae. ‘n Vriendin vertel hoe sy houtstoeltjies by ‘n markie bewonder het, tot sy uitvrae oor die besigheid. Dan hoor sy dat beide hul werk verloor het en ‘n nuwe begin moes maak. Haar man kon houtwerk doen en sy naaldwerk. Die houtstoeltjies was ‘n tree na oorlewing. Vir die koper raak dit meer as net ‘n houstoeltjie. Dit word ‘n inspirasie.
Ek bewonder mense wat uit hul ‘comfort zone’ beweeg en probeer. Ek bewonder veral hulle wat eintlik sukkel met bulte, en tog aanhou klim. Wat nie vaskyk teen een been nie, maar aanhou oefen tot hy kan. Rolstoel tennisspelers wat vreugde vind in hul eie manier van speel.
Soveel van die stappers wat ek ontmoet, het laat eers in hul lewe gewaag om ‘n berg uit te klim. Dit kos moed om alleen by ‘n stapgroep aan te sluit.
“Step by step we’re moving forward, little by little we’re making ground,” motiveer ek die groep wat agter my aanstap. Eers later onthou ek die res van die woorde. “Every prayer a powerful weapon. Strongholds come tumbling down and down and down.” n Stapgenoot begin spontaan saam sing: “I will follow Him…”. Die skille val van my oë af. Dalk die eintlike boodskap van die dag: In ons lewensreis kan ons berge klim deur aan te meld en Hom te volg. Al wat Hy vra, is een tree op ‘n slag. Hy verwag nie dat jy noodwendig ‘n groep moet join nie, net dat jy Sy hand moet vat….
Die 13 pieke challenge was ‘n klein stukkie in my lewensverhaal. Die feit dat ek gewaag het om op te daag, het een tree gekos.
Xxx
Net vir inligting. Die 13 pieke challenge is ‘n sirkelroete waar jy by Seinheuwel begin stap. Jy volg die pad na Leeukop, dan Tafelberg se McClears’beacon, Grootkop en Judaskop. Dan na Klein Leeukop, Sutherpeak, Chapman’s peak, Noordhoekpeak, Muizenberg Constantiaberg, Klassenkop, Devilspeak en al die pad terug na Seinheuwel.