Wie jy is
Waarvoor is jy bekend, was die gasspreker se vraag op die sportprysuitdeling. Voor op die tafel het baie trofees gestaan. Gereed vir die groot aand se toekennings. Sy het haar storie met ons gedeel. Uitblinker in hokkie en tennis. Boland in beide sportsoorte. Later ook hokkie op provinsiale vlak. WP en toe Natal. Hoe gaan dit met die hokkie, was die vraag wat gedurig opgekom het? Op ‘n dag het die pennie gedrop. Is dit al wat sy was? Net ‘n goeie hokkiespeler? Sy wou meer wees as dit.
“Ek is die weg, die waarheid en die lewe”, Jesus se antwoord wanneer Tomas ook wonder oor die pad vorentoe… Die dominee verduidelik verder. Hy is die weg, die ‘eksodus’, soos die uittog uit Egipte, maar meer as dit. Hy is nie net die weg uit die modder nie maar die weg ná die Vader. Die waarheid, nie net wat jy van iemand sien op sosiale media nie, dis wat jy van hom weet wanneer jy iemand persoonlik ken. Hy is die lewe. Ons in-en-uitasem.
Tatjiana het genoem dat sy onthou wil word vir die mens wat sy is, meer as vir die medaljes wat sy gewen het. Akani Simbini is lankal nie meer die atleet soekend vir die medalje nie, maar word gesien as “the kid that is just running for fun…” In ‘n onderhoud met Olympics.com vertel hy iets van sy verhaal. Hoe hy ‘n atleet was wat alles gedoen het om ‘n sukses te kon behaal. Hy het reg geëet, hard geoefen en tyd met sy familie opgeoffer. Sy hele identiteit was gebou op sy atletiek prestasies. Toe hy in sy doel misluk, was daar niks om op terug te val nie. Depressie het gevolg. ‘n Lang reis van introspeksie was nodig om uiteindelik te kon aantree as ‘n vry man by die 2024 Olimpiese spele. Vry van die druk van ‘n medalje. Al wat hy wou wees, was weer die kind wat die vinnigste kind in die straat wou wen.
Wie of wat is jy as jy gestroop word van jou medalje? Die een wat omgee, sy beste lewer, altyd opdaag, geleenthede aangryp, opstaan as jy geval het? Jannie Putter noem gereeld dat sukses in ys geskryf word. More begin almal weer.
Die harde werk van die seisoen pluk vrugte. As jy gelukkig is, kry jy erkenning vir jou prestasies, word jou naam genoem, kry jy ‘n handdruk, sertifikaat en dalk ‘n trofee. Staan vir ‘n foto, stap af en sit dieselfde trofee op die tafel neer. Is jy meer as jou trofee?
Die volgende dag skryf ek twee gedigte. Een vir die tennisspeler van die jaar, en die ander vir die beste vordering in haar span. Een haal die verhoog, die ander nie. Vir beide is ek dankbaar. ‘Praise be to God’ en ‘By the grace of God’. Elkeen uniek en mooi in hul menswees. Prestasies en trofees het hul nog nooit by my gedefiniëer nie. Vir albei is ek ewe lief en trots op. ‘Waarvoor moet ons jou onthou?’, is my vraag in beide se gedig. Die antwoord is dieselfde: “Vir wie jy is, dis wat tel.”
“Hardloop in die see in met jou jeans aan…” , sing Karen Zoid. Hardloop op die hokkieveld soos net jy kan, las ek by. Vergeet ‘n oomblik van die span se naam. Proe die lewe. Voel die wind in jou hare en haal net weer asem.
Die gasspreker blaai deur haar album. Haar drome het anders verloop as beplan. Die stopstraat het haar in ‘n ander rigting laat draai en haar ander hoogtes laat bereik. Sy glimlag. Sy het wel by die Olimpiese spele in Parys uitgekom. Nie as hokkiespeler nie, maar as hokkie skeidsregter!
Soms loop die lewe snaakse draaie. Maak ons verkeerde besluite of werk dinge bloot nie uit soos ons gedink het dit sou nie. Koos du Plessis se lied trap spore in ons modderpaadjies. “Elke afdraaipaadjie ken ek, elke keer het ek verdwaal, elke keer het U my iewers kom haal.” Dankie Here!
Ek weet wat Ek vir jou beplan my kind….
Akani het weer sy pad gevind. Om met vreugde te hardloop. Tomas het die pad na die ewigheid ontdek. “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” Haal asem. Proe die lewe. Hardloop voluit. Sing jou hart uit. Wees lief. Lag genoeg. “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.” Johannes 10
Wie jy is, dis vir Hom genoeg.