Eerste, tweede of derde

Watter een is die blyste, was sy vraag. Die een wat die goue, silwer of bronsmedalje gewen het? Die antwoord was maklik. Natuurlik die goue medalje wenner. Tussen die silwer en bronsmedalje wenners was dit ‘n ope vraag. Is jy blyer omdat jy 2de was of net-net nie vierde nie? Interessant genoeg was die bronsmedalje wenner blyer as die silwermedalje wenner! Die feit dat jy nie gewen het nie, (2de plek) teenoor dat jy gelukkig ook ‘n medalje gewen het (3de), was die verskil tussen wie die blyste was.

Wat steel jou geluk, is Johannes de Villiers, skrywer van die boek, Blydskap, se vraag op RSG se program met dieselfde titel. Is die grootste dief nie dalk jou konstante vergelyking met ander nie? Alles is goed, tot jy ontdek….Jou kar ry lekker tot jy in jou buurman se nuwer model klim. Jou plaaslike vakansie is heerlik tot jy sien hoe ander op die lughawe groet vir hul oorsese vakansie. Jy is dankbaar vir jou werk tot jy hoor dat iemand meer as jy verdien.

Jy laat toe dat jou geluk gesteel word. Omdat jy opwaarts vergelyk. Na hulle wat oënskynlik meer het en beter doen as jy.

Met die olimpiese spele agter die blad is daar baie stof tot nadenke. Almal was wenners maar sommige was groter wenners as ander. Nie noodwendig omdat hulle die goue medalje gewen het nie, maar dalk omdat hulle klaargemaak het op ‘n moeilike dag. Ek dink aan die marathon vir vroue, waar die laaste atleet met tye gestap het en ooglopend swaar gekry het. Haar staande ovasie was net so groot soos die 2 voorste atlete wat mekaar kop aan kop gejaag het. Haar tyd en posisie is onvergelykbaar met hulle s’n, maar haar vasberadenheid om klaar te maak dalk net so groot as hul strewe om te wen. Ons spiesgooi atleet, Jo-Ané van Wyk, ontvang haar silwer medalje met ‘n breë glimlag. Sy kry egter goud sonder ‘n medalje vir haar optrede na die tyd, wanneer sy al die beamptes met die hand groet en dankie sê. ‘n Klein gebaar met groot betekenis. Botswana se kampioen, Letsile Tebogo, ontvang dubbele goud in my oë. Een vir sy oorwinning in die 200m wedloop en die ander vir sy nederigheid waarmee hy dit ontvang. Uithou, respek en nederigheid. Podiumplekke uit ‘n ander hoek.

Waaraan meet jy jou prestasies? Aan jou beste tyd of die wêreld rekord? Aan jou optrede langs die veld of op die verhoog. Wat is jou dryfkrag wanneer jy jou naam opskryf om gekies te word? Die wonderlikste van die Olimpiese spele is die feit dat verskeie atlete ‘n Nasionale rekord opgestel het of hul beste tye gehardloop het. Om op die groot verhoog vir jou land deel te neem, bring die beste uit mense uit. Wanneer jy vir meer as jouself hardloop raak jou dryf selfs groter. In my stiltetyd lees ek hoe Daniël aanhou om, soos sy gewoonte was, tot sy God te bid. Die feit dat hy ‘n betroubare werker was waarmee niemand kon fout vind nie, spruit uit sy geloofspad met sy God. Hy werk eerste vir Sý koning, daarom vrees hy nie die leeukuil of wat met hom gaan gebeur nie. Geloof eerste, sukses tweede. Wanneer ons dit regkry om ons passies uit te leef, ons beste te gee en vir die Here te werk, kry ons prestasies ‘n ander kleur. Word oorwinnings anders gemeet. Soos die grondslagfase juffrou wat haar “reward”kry in die feit dat sy iemand leer lees en skryf het.

Eerste, tweede of derde? Dalk het ons die volgorde gemis. As ‘n vriendin se dogter teen die verwagting in nie verkies word tot die leerlingraad nie, troos sý haar ma met die woorde: “Ek het vrede in my hart.” Ons leer iets by Daniël wat aanhou bid, ten spyte van, en by ‘n tienerdogter wat weet dat sy meer werd is as ‘n verkiesingsuitslag. Geloof eerste, vrede tweede, sukses derde. Goud, silwer en brons. Goed genoeg wanneer ons ophou om ons te vergelyk. Vol blydskap omdat ‘the joy of the Lord’ ons krag is. Altyd ‘n oorwinnaar wanneer ons saam met Jesus stap. Vrede wat alle verstand te bowe gaan, ook daar waar ons in die wêreld se oë met ‘n tweede plek tevrede moet wees.

“As iemand die eerste wil wees, moet hy die heel laaste en almal se dienaar wees….” Markus 9:35. Jou laaste plek is dalk reeds Jesus se eerste plek.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories