Uitgesoekte vroue
Ek moes ‘n babafoto gaan soek het vir ‘n hokkie afsluiting. Albums is uitgehaal en deurgeblaai… Die nostalgie het my oorweldig. Kleine lyfies wat groter geword het. Ek het hul 1ste verjaarsdag herleef. Musieknote-koek. Dankbare dag. Hul eerste jaar was immers ‘n jaar van baie stres en trane. Operasie op 6 weke ouderdom. Veelvuldige breinskanderings en spesialis besoeke. Ek onthou hoe ek sommige oggende met biddende trane om die blok gestap het met die groot “4×4” dubbelpram. Gewonder het of ons by hul eerste verjaarsdag sou uitkom. Daarom musieknote. Dit was ‘n lofprysingsgeleentheid. Vandag word ek weer daaraan herinner. God wat voorsien, ook in woestyntye.
Dis vroue-maand en my gedagtes staan stil by vroue wat inspireer. Meestal mammas wat agter toe deure bid en pleit. Dikwels in my spreekkamer die sluier lig en hul hart ontbloot. Soms is dit bloot moegheid, ‘n lewe wat oorweldig, ander kere kinders wat van die pad af loop. ‘n Ma se trane wat pleit vir haar kind.
‘n Vriendin-mamma plant blomme en jubel oor dit wat sy gehad het. ‘n Seun wat 17 jaar vir haar geleen is. Sy vat die pyn van verlies weer en weer want, soos in haar eie woorde, kan dit nie opweeg teenoor die vreugde wat sy lewe hul gebied het nie. Sy inspireer met haar sagte glimlag en soms hartseer oë.
Maria staan volgende in die ry. Mooie Maria wat vroeg reeds uitverkies was vir haar taak. Haar ‘tot beskikking wees’, het haar van die krip tot die kruis gelei. Sy het die mamma van Jesus gebly, al is haar hart ook deurboor. Uitgesoek vir ‘n rede.
Waarom vrouedag, wil baie weet. Vir vroeg opstaan en laat gaan slaap. Vir stille trane en aanhou-gebede. Vir sagte geure en inkleur oomblikke.
Wees sag met jouself, troos ek die moeë mamma. Sommige balle gaan op die grond val. Alles hoef nie altyd perfek te wees nie. Môre is nog ‘n dag.
Uitgekies vir ‘n rede. Mamma, vrou. Meisiekind. Mooi en sag gemaak. Veerkragtig en sterk. Om te wees.
Vandag kyk ek dankbaar terug. Soveel kosbare vroue op my lewenspaadjie. Ek dink aan my ouma, Sondagskool-tannies en juffrouens wat my geleer en inspireer het. My lewe ingekleur het met wysheid en mooi oomblikke. Ek kyk dankbaar om my rond. ‘n Ma wat steeds vir my bid, vriendinne wat saam stap of draf, ander inspirasie-vroue wat vooruit loop om my die pad te wys. My 3 pragtige dogters wat elkeen hul unieke menswees ontdek. Jul maak my lewe mooi.
Dankie Here vir vrou-wees. Dat U ons uitgesoek het vir hierdie seisoen.
Sonskyn, reën, wind of koue. U weet waar ons is en wat ons nodig het. U maak die lelies mooi….