Sondagoggend se stilword
In die nag word ek wakker. Vreemd onrustig. Honger. Soekend. Ek weet wat pla. My siel voel onbevredig. Die afgelope week was baie grys en nat. Ek het dit een maal gewaag om te gaan hardloop. Dit was lekker, maar die reën het my steeds gevang. Die res van die tyd het ek maar binne gebly. Ek praat anders met die Here as ek buite draf. Ook was ek lanklaas in my eie kerk. Met die vakansie, was almal op ander plekke. Vanoggend speel my kind weer hokkie. Nog ‘n ongewone Sondag.
Baie keer vra mense my waaroor ek skryf. Die antwoord is eenvoudig. Dit wat op my hart kom lê. Dit wat my raak en waaroor ek soms tob in die nag. Dan raak dit soos ‘n golf wat opbou totdat dit soos ‘n Tsunami by my pen wil uitvloei.
Mense se stories raak my. Hul swaarkry en verliese. Hul opstaan en menswees. Ek lees goeie boeke en spits my ore vir boodskappe wat my hart tref. Soms is dit een sin of ‘n onbekende versie, soms ‘n halwe boodskap. Terwyl ek ‘n week later gereedmaak vir kerk, vertel die pastoor op die radio van Salomo wat tussen al sy besittings uiteindelik erken….as die Here die huis nie bou nie, is alles tevergeefs. Psalm 127 kry skielik ander betekenis wanneer jy besef wie dit geskryf het. In die kerk direk daarna lees ons oor Nehemia… Een sin vang my op: “40 jaar lank het U vir hulle gesorg…in die woestyn het hulle klere nie verslyt nie en hulle voete nie geswel nie.” ( Nehemia 9:21). Ons ken die deel van die Here se sorg vir die Israeliete met manna en kwartels, water uit ‘n klip, maar ons mis die ander wonderwerke. Met al die ver stap in die hitte, het hul voete nie geswel nie… Detail sorg, en detail observasie. Kyk terug wanneer jy begin twyfel, en onthou.
“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan te maak…” Salomo se observasie is uiteindelik ‘n refleksie wanneer hy besef dat die lewe net sin maak, as die Here sentraal staan in alles wat ons doen. In ons besig wees en swoeg en sweet, mag die Here nie bloot net ‘n versie in die aand wees of ‘n dagstukkie in die oggend nie. As die Here die huis nie bou nie, swoeg die wat daaraan bou, tevergeefs. (Psalm 127: 1). Ons bly moeg en aan die jaag wanneer ons Jesus te veel aan die kant van ons lewens laat staan.
Ek kry my kos wanneer ek tyd spandeer in die Woord, wanneer ek kort-kort met die Here gesels en my ore spits om Hom te hoor. Hy vleg stories in my hart en bring drade bymekaar uit wat my soms verwonderd laat staan. Mits ek tyd maak om te luister.
Op die Maandagoggend, voor die besige week wat wag, raak ek rustig wakker. Ek is bly dat ek op die Sondag weer kon pause. Krag kon optel om die week se uitdagings aan te pak, met die wete dat ek tevergeefs gaan bou as ek dit alleen gaan doen.
Ek dra my kinders aan Hom op met ‘n gebed. Stuur U Gees om in hul te wees. Ek bid vir manna en kwartels op die regte tyd maar ook vir die klein detail wat ons soms mis. Mag hul klere nie verslyt en hul voete nie swel terwyl hul woestynpaaie moet loop nie. Dankie vir U sorg.
Onrustig, honger, soekend. Dis wat gebeur wanneer ek te vinnig begin hardloop en uitmis op dit wat regtig belangrik is. Dankie vir tweede kanse. Vir ‘n Sondagoggend tussen bedrywige weke. Stilwordtyd by U voete waar ek rus en kalmte kan vind…soos ‘n kindjie by sy moeder…so is my gemoed. (Ps 131). Dis hoe ‘n mens vrede vind. Veral in die nag, wanneer die stormwind waai….wag op die Here, nou en vir altyd. Die Psalmdigter se geheim.