Die waarde van een
Jare gelede, toe my seun nog in die laerskool was, het hy ‘n moeilike situasie beleef. Die seuns en dogters het op daardie tyd ‘n balspeletjie saam gespeel. ‘n Groepie van die meisies het egter gekeer dat my seun ook speel. Dit was vir hom baie sleg. Elke dag het hy met hangskouertjies by die kar aangekom. Ek was later radeloos. Uiteindelik het ons besluit dat al wat ons kon doen, was om daaroor te bid. Sommer net daar in die kar, by die skool, het ons die kwessie aan die Here opgedra.
Die volgende dag het my seun met ‘n breë glimlag by die kar aangekom. Hy het opgewonde uitgeroep dat hy kon saamspeel. Ons gebede was beantwoord! Ek kon nie help om te wonder hoe dit gebeur het nie. Hy het vertel hoe een van sy seunsvriende daardie dag vir hom opgestaan het en gesê het as my seun nie mag saamspeel nie, hy ook nie gaan speel nie. Toe gebeur ‘n merkwaardige ding. Een vir een het al die seuns opgestaan en sy voorbeeld gevolg. Die ultimatum was gestel. Almal of niks. My seun is toegelaat om saam te speel.
Ons het daardie dag drie dinge geleer: 1. Dat ons ons begeertes en probleme vir die Here moet gee. “Stort julle hart voor Hom uit…”(Psalm 62) en dat niks te gering is vir Hom nie. Gebed kan dinge verander. 2. Dit het een seun gekos om op te staan. 3. Dit het ander gekos om sy voorbeeld te volg. Ek het besef dat almal nie altyd leiers kan wees nie, maar ‘n goeie leier het mense nodig wat hom kan ondersteun. As Renier alleen opgestaan het, het hy dalk ook eenkant beland.
Wanneer ek dink aan ons president, die parlement en die regering voel ek soms magteloos omdat ‘n mens ver is van die binnekring. My seun se verhaal herinner my dan dat gebed ‘n verskil kan maak. Dat dit daartoe kan lei dat iemand opstaan vir wat reg is en ander hom kan ondersteun. Dit maak my dan verantwoordbaar om te bid vir elkeen aan die stuur van sake. Vir insig en wysheid en die moed om op staan vir dit wat reg is. Vir die regte mense rondom hulle. Vir goeie volgelinge.
Terwyl Moses in die woestyn reis is dit eers sy skoonpa (Eksodus 18), en later die Here self, (Numeri 11) wat hom lei om mense aan te stel om hom te help. “Stel leiers aan oor duisend, oor honderd, oor vyftig en oor tien… dit sal vir jou makliker wees as hulle die verantwoordelikheid saam met jou dra.”
Ongeag of dit 10, 50, 100 of 1000 mense onder ons is, die Here kan ons gebruik in die kring waar jy beweeg. Soms kos dit jou om op te staan vir iemand anders, dalk om ‘n goeie leier te ondersteun en soms om net te bid vir die situasie. Vingers wys is nooit ‘n opsie nie.
Die ‘waarde van een’, is die dominee se opskrif. Een skaap wat gevind word. Een persoon wat gered word. Die Here kyk anders as ons. Groot getalle is nie vir Hom belangrik nie. Een persoon het opgestaan vir ‘n vriend. Een vir een het die ander seuns opgestaan. Vir een persoon het dit ‘n groot verskil gemaak. Hy vra van ons om te doen wat reg is. Vandag nog. Die waarde van een is groter as wat ons dink.