Kaptein van jou boot

Ek hou van reis, al doen ek dit te min. Om nuwe plekke te ontdek en mense te ontmoet. Terwyl ek die afgelope vakansie by die lughawe wag, beleef ek emosies van afwagting, opgewondenheid en daai effense angstigheid. Is my kaartjie reg, is ek op die regte plek, het ek alles by my? Terwyl ek wag om deur te stap, verkyk ek my aan my medereisigers. Dis vroeg in die oggend. Sommige lyk deftig aangetrek, ander bloot gemaklik vir die vlug. Elkeen met sy eie agenda. Voor my sug die jonger vrou. Sy is oppad na ‘n familiefees en min lus daarvoor. Agter my staan die man met sy kortbroek. Hy is ‘n Vrystater en oppad huis toe. Duidelik min gepla deur die Kaapse winter. Almal dra ander bagasie.

Binne in die vliegtuig vind elkeen sy plek. Drie mans met swart pakke stap tydloos heel laaste in en gaan sit ‘n entjie voor my. Hul gesels luidrugtig en kom belangrik  voor. Ek wonder of hul politieke leiers is of bloot sakemanne. Die vliegtuig styg op en die ligte gaan af. Dit word stil terwyl sommige hul oë sluit vir nog ‘n bietjie rus. Buite ry ons in die rigting van die son. Die horison raak oranje rooi in die verte en ek voel myself ontspan. Min dinge so mooi soos die dag wat breek. ‘n Danklied kom in my kop…”The sun comes up it’s a new day dawning….”

Ons land effens hard en ek voel dankbaar toe die wiele eindelik stop. ‘n Vreemde gedagte kom by my op. Ons is almal in dieselfde bootjie. Ongeag wie ons is, wat ons titel is, ons afkoms of agendes, ons het min beheer oor die stuur van die vliegtuig. Ons koop ‘n kaartjie met blindelingse vertroue en word gelyk in afhanklikheid.

Dit voel amper ironies wanneer ek dink aan die woorde van die gedig, Yourself to blame, in die eerste hoofstuk van die boek, Gifted Hands – the Ben Carson story, wat ek in dieselfde vliegtuig lees. Die boek handel oor die neurochirurg wat bekendheid verwerf het vir die skeiding van ‘n Siamese tweeling jare gelede. Hy dra die boek op aan sy ma wat hulle deur moeilike omstandighede gedryf het om ‘n sukses van hul lewe te maak. Telkemale het sy die een reël van die gedig aangehaal: ‘You’re the captain of your ship’. Jy bepaal waarheen jy oppad is.

Hoe ouer my kinders word, hoe meer besef ek dat ek minder ‘in beheer’ raak van hul lewens en besluite. Dit sluit aan by die tema van die fliek, Inside out 2. Die emosie-karakter Joy, besef uiteindelik dat hulle nie meer vir Riley, nou ‘n tiener, teen al die slegte dinge kan beskerm nie. Hulle kan ook nie meer namens haar besluit wie sy is nie: “You don’t get to choose who Riley is. Anxiety, you need to let her go…” Uiteindelik is ons kinders besig om te groei in hul menswees met al die kronkels wat hul paadjie loop. Raak hul die kaptein van hul eie boot, met al die verantwoordelikhede wat daarmee saamloop.

Wie is die kaptein van jou skip, is die vraag wat my laat stilstaan. Wie of wat blameer jy as dinge verkeerd loop? Die afrigter kan raad gee maar hy kan nie vir hulle speel nie. Ek kan nie meer alles vir my kinders besluit nie. Soms kan ek net vir hulle bid.

Jesaja 44 bly my anker gebed en my verwagting: “Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge”. My grootste gebed is dat my kinders Hom in alle omstandighede sal kies as hul Stuurman. “Die een sal sê, ek behoort aan die Here….die ander sal op sy hand skryf: die Here s’n.”

Ons lewens is ‘n reis en daar is waarheid in Mayme White Miller se gedig:

If things go bad for you
And make you a bit ashamed,
Often you will find out that
You have yourself to blame...

You're the captain of your ship...

Dalk sal my gedig dit anders wou stel: If things go bad for you…stop and turn around. Let our Father in heaven lead you out…you are the captain of the ship, but He is the master of the way.

Om te reis, lei jou na nuwe plekke. Dit kos soms om blindelings te vertrou. Tog lê die antwoord dalk eerder in Matteus 5: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is… in Sy hand is ons veilig. Ongeag waar die vliegtuig land.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories