Be real
Die afgelope twee weke het die plaaslike teater in ons dorp ‘n toneelfees-kompetisie aangebied. Verskeie hoërskole en ‘n paar laerskole het hul produksies op die planke gebring. Ek was bevoorreg om na ‘n hele paar te kon kyk. Van die treffendste was harde stories oor bendes, ‘n tikverslaafde, straatkinders en straatbedelaars. Real-life stories uit tieners se monde. Jy hoor die kritiek teenoor hulle wat langs die kantlyn staan en vingers wys. Mense met min begrip van dit wat daarbinne gebeur…
Jaco Strydom noem in ‘n onderhoud dat ons minder veroordelend deur die lewe moet reis, en dalk eerder met ‘curiosity’….Wonder liewer hoekom iemand is wat hy is en doen wat hy doen, voor jy die eerste klip gooi.
By die Olimpiese spele se opening val die Refugee-span my op. Ek kan nie help om te wonder wat die storie agter die deelnemers is nie. Ek lees dan dat die span in 2015 geskep is vir 10 atlete wat vir die eerste keer in 2016 in Rio deelgeneem het. Die atlete het van ‘n verskeidenheid lande afgekom, o.a Etiopie, Suid-Sudan, Syria en die Demokratiese republiek van die Kongo. Hierdie jaar is daar 37 atlete. Elkeen met sy eie storie van uitdagings. Vir elke olimpiese atleet is dit ‘n reis van sweet en opofferinge. Vir hierdie groepie mense is daar ‘n sak bagasie waarvan min van weet. ‘n Geveg vir oorlewing, menswaardigheid, erkenning, en dan eers ‘n podiumplek. Vreemd hoe die Olimpiese spele mense nader aan mekaar kan bring.
In die kerk is die boodskap tydens die Sondag erediens dat ons lewensstories saak maak vir God. Dat dit deel word van ons getuienis en soms die manier is om juis met ander mense te connect. Alles in jou verlede is dalk nie goed of reg nie en tog is dit deel van wie jy is. Word ‘amazing grace’ dalk ook jou lied waarmee jy juis ‘n verskil kan maak.
Wanneer ek na die aanklagte luister van stemme in die drama produksies, is dit soms juis die kerkmense met hul Bybelversies wat die meeste aangeval word. Wat soms onwetend meer skade doen as help. Met hul deftige karre van die kerk af ry en op Mandela dag kies om kospakkies uit te deel. Wat menswaardigheid in die proses vergeet terwyl hul tevrede gaan slaap oor hul tiende wat hul vandag gegee het.
Soms moet ons leer om net eers stil te bly en te luister. Na ander se stories. Soms is die seerkry diep begrawe. Lê genesing juis in die deel van jou storie. Dramastukke raak die noodkreet van ander wat daagliks moet swyg.
Be real, is die wekroep. Wanneer ons begin leef uit die platvorm van die genade waarop ons staan, val ons maskers af en begin ons getuienis die verskil maak.
Amazing grace, how sweet the sound
That saved a wretch like me
I once was lost but now I'm found
Was blind,but now I see
Kitskos maak nie versadig nie en kitsversies bring nie ‘n oplossing nie. Deur na mekaar se stories te luister, bring ons genesing. Kan genade uitgedeel word en maak ons ander se lewensreis dalk ‘n bietjie makliker. Waar daar liefde is en deernis, dis waar hul Hom ontmoet.
He ís real.