Wenners sonder medaljes

Hy het die finaal gehaal, maar nie ‘n medalje ontvang nie. Uiteindelik kom hy sewende. Sommige sug teleurgesteld. Wat jy nie lees nie, is dat Pieter Coetzee met daardie tyd ‘n nuwe Afrika rekord stel en sy persoonlike beste tyd swem. Merkwaardig.

Akani Simbine. So naby, tog so ver. Weer ‘n vierde plek. Nasionale rekord langs sy naam. Hy het sy alles gegee. My woorde ontbreek hoe graag ek dit vir hom sou wou hê.

Nog ‘n Suid-Afrikaanse atleet, Adriaan Wildschutt kom 10de in die 10 000 m. Weer sug mense. Wat hulle nie besef nie, is dat hy die 10km in ‘n tyd van 26:50.64 gehardloop het, ‘n ongelooflike vinnige tyd, ‘n nasionale rekord en amper 10 sekondes vinniger as die olimpiese rekord wat in 2008 opgestel is. Die rede waarom hy nie met ‘n medalje spog nie is omdat 9 ander atlete dit ook reg kon kry in ‘n absoluut geskiedkundige wedloop. Die goue medalje wenner se tyd was 26:43.14. Split-sekondes vinniger.

Tatjana Smith (Schoenmaker) se prestasies lok meer belangstelling uit. Sy is immers ‘n goue en silwermedale wenner. Tog gee haar uittree-toespraak ‘n ander perspektief: “Achievements fall away, but you want to be remembered for who you are. I hope I’m remembered for bringing people joy. Swimming is just a season in my life. There is so much more than swimming and I’m excited to live life!”

Terwyl ek oor haar woorde dink, besef ek dat daar soveel meer is as net die medalje of die bergpiek wat ek klim. As dit net gaan oor die baken bo op die berg maar ek in die proses die veldblomme mis, die uitsig of die geleentheid om nuwe mense te ontmoet, mis ek uit. Daar is altyd ‘n groter prentjie wat ons moet raaksien.

Net om by die olimpiese spele uit te kom, is ‘n prestasie, om uitdun na uitdun te presteer sodat jy die finale rondte kan bereik, reeds ‘n oorwinning. Tog sug en kla mense wanneer medaljes nie instroom nie. ‘I gave it my best shot’, is die 3-kamp atleet, Henri Schoeman se antwoord na sy 20ste plek in uiters moeilike wedloop omstandighede. Wat meer kan ‘n mens van iemand vra as om sy beste te lewer. Sy mede-atleet, Jamie Riddle, wat 25ste geëindig het, verwoord sy belewenis net so mooi. “It’s a 12 year dream that’s come to fruition…It’s not what I trained for result-wise, but I refused to go out there and not enjoy it. I soaked up everything and that was by far the best day of my life.”

“Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.” Prediker 3. Vreugde word gevind in die lewensreis, dit waarmee jy vandag besig is. Sukses word gebore in die pad na die spele. Die medalje is die kersie op die koek. Dis die “moments”rondom dit, wat die ware prentjie inkleur.

In ‘n aangrypende video beleef ek weer die hartseer oomblik by die Spele in 1992 toe ‘n potensiële wenner van die 400m, Derick Redmond, sy dyspier geskeur het. Op die video is die pyn en teleurstelling op sy gesig duidelik. Sy drome daarmee heen. Vasbeslote om sy wedloop te voltooi het hy voortgegaan en op een been begin spring. Skielik het ‘n man uit die skare verskyn en hom na die atleet gehaas ten spyte van sekuriteitsmense wat hom wou keer. Dit was die atleet se pa….die pyn op sy seun se gesig was te veel om te hanteer. Hy het sy arm om sy seun se middel gesit waarna Derick op sy pa se skouer gehuil het. ‘n Kosbare oomblik is vir ewig vasgevang. Saam het hul die wedloop onder staande ovasie voltooi. Geen medalje kon die triomf van daardie dag oorskadu nie.

Soms werk ons drome nie uit soos ons dit beplan het nie. Soms haal ons nie die finale rondte of die podium nie. Sukses word nie noodwendig gemeet aan trofees nie, maar of jy kan opstaan, aanhou, weer probeer en hoe jy mense rondom jou laat voel het. Akani is ‘n hero in soveel Suid-Afrikaners se oë. Sy breë glimlag en harde werk maak hom geliefd.

‘n Sewende plek op die Olimpiese spele is uitstekend. Deelname op hierdie vlak plaas jou reeds in ‘n ander klas. Medaljes is wonderlik, maar nie alles nie. Dis die ‘Pb’s’ in ons en ander se lewens wat ons moet begin celebrate. Die swakhede wat jy oorwin, toetspunte wat jy verbeter, jou beste tyd in ‘n uitdun. Mag ons meer regmerkies raaksien as kruisies. Om Altyd, in Alles, jou Allerbeste te gee, Asof vir die Allerhoogste. Uiteindelik waarin ons sukses gemeet word.

Akani, ons weet jou hart is seer… maar vir ons is jy en al jou mede-atlete meer as wenners. Julle is inspirasie-modelle. Baie meer werd as ‘n medalje!

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap