Grashalms

Wanneer jy van ‘n berg afloop, moet jy dikwels steil afdraendes trotseer met los klippe en hoë trappies. Plek-plek soek jy dan onwillekeurig vashouplek. Ek vang myself dat ek verwoed aan grashalms gryp en is dankbaar vir die onverwagse jong boompie wat op die regte draai staan….’n lieflike vashouplek. Behalwe die ‘lekker’ blare, is daar egter ook plante wat jy moet vermy. Sommige met dorings en ander met gif wat jou blase kan gee. Gelukkig leer mens vinnig uit jou foute…

Dis terwyl ek teen Sutherpeak se berg afloop wat ek die raakpunt sien van ons wat meer soos daai lang grashalms moet wees. Vashouplek vir hulle wat soms moeilike tree moet gee. Nie noodwendig kuierplek nie, maar vashouplek. Soveel mense is pelgrims van die lewe wat jou pad dalk een of twee maal kruis. Soms is ‘n luister-oor of sagte woord die grashalm-anker wat hom vorentoe laat beweeg en keer dat hy nie val nie. Hoe hartseer is dit egter nie wanneer mense ander vermy uit die vrees vir giftige woorde of seermaak-dorinkies nie. Soms verkies ons ook om nie betrokke te raak nie. Wil ons liewers ver van moeilike paadjies geplant word. Net nie hier nie, Here, sug jy dan sag, net nie hier waar reisigers wil loop nie….

Wanneer ds Deon dieselfde aand oor die verlore blokkie praat, die skakel wat ons soms in ons geloofspad mis, verstaan ek iets daarvan. Ons bedoelings is soms reg, maar ons mis die punt. Ons broei rondom ons eie panne maar mis God se plan in die proses. Ons droom van die mooi plant wat ons elders kan wees en mis uit op die wete dat ons soms vir ander redes langs ‘n paadjie staan. Petrus se hart brand vir die evangelie, (Handeling 9-11), maar hy sukkel om raak te sien dat dit ook vir nie-Jode bedoel is.

Jaco Strydom maak ‘n paar jaar gelede ‘n treffende opmerking tydens ons pinksterreeks: Baie mense in Suid-Afrika is lief vir Jesus, maar wat ons land dalk meer nodig het, is mense wat lief het soos Jesus….Ons raak vasgevang in one eie dogmas van doen maar mis die groter prentjie. God se mense, sy land, sy drome.

Waar pas ek in die prentjie, is my vraag aan myself. Om hierdie week vashou blare te wees omdat God se genade oorvloedig in my eie lewe is. Daarom mag ander maar soms aan my vasgryp, weer los en aanbeweeg. Nie omdat ek onbelangrik of misbruik was nie, maar omdat ek dalk die anker moes wees vir daardie tree in hul lewe.

Sommige dae is jý dalk die een wat teen die berg af of opklim. Hoe dankbaar wanneer klein ankers ons veilig bring na die volgende bestemming.

My dag was goed. Ek het heel bo en weer veilig onder uitgekom. Danksy my hande en voete, heupe en knieë kon ek klim en klouter. Daar was rotspunte wat ek kon vasgryp en selfs ook kettings wat ervare klimmers vir ons opgerig het. Hier en daar moes ek afseil en baie kere was die groen blare en jong boompies op die regte plek om te kon vasgryp. God wat sorg op die ongewoonste maniere.

Mag ons vandag die grashalm wees vir ander se vashou. Mag Hy ons help om met ander oë te kyk. Meer lief te hê soos Jesus…sodat ander veilig kan loop.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories