Tussen die bourommel
Op ‘n stadium het helpende mense in ‘n ry gestaan en bourommel aangegee. Alles in die hoop om so spoedig moontlik nog mense te kon bevry. Een van die slagoffers vertel hoe dit net die gedagte aan sy 2-jarige seuntjie was wat hom laat uithou het. ‘n Tragiese verhaal met flikkertjies van hoop. Mense wat saamstaan en omgee, die universele verhaal wanneer rampe plaasvind. Dis wat ‘n mens moed gee.
Te midde hiervan vier ons Hemelvaartsdag, en langsaan is politieke partye besig met veldtogte van bangmaakpraatjies en brawade. Eintlik so ‘n kontras. Binne-in die rommel lê mense vasgekeer. Daarbinne raak politiek irrelevant. Dis ‘n stille geveg van lewe en dood. Vrede laat ek vir julle na. My vrede, sê Jesus toe sy dissipels ook sukkel om te verstaan. Vrede wat alle verstand te bowe gaan…
Terwyl ek in die berg stap tussen ‘random’ stappers van jonk en oud, swart en wit, fiks en minder fiks, is dit opvallend dat niemand in hierdie ses ure oor enige politieke of negatiewe nuusgebeure praat nie. Ons bewonder die fynbos, die berge en see. Jy is dankbaar dat jy nog hoë trappe kan klim, dat jou longe werk en jy nie gly terwyl jy die glibberige afdraendes aandurf nie. Jy voel uiters dankbaar om vars lug in te asem, om hier te kan loop en die mooi te kan beleef. “Somewhere, somehow, you are living someone’s dream…”
In ons gejaagdheid en besig wees is dit so maklik om die essensie te mis. Wanneer Jesus aan sy dissipels probeer verduidelik dat sy weggaan tot voordeel van hulle is, verstaan hul dit nie. Dis eers later wanneer Sy gees uitgestort word dat hul iets daarvan begryp. Sy opdrag aan sy dissipels is dat hulle Sy getuies moet wees….só moet leef dat dit tot voordeel van ander sal wees.
Tydens die Sondag boodskap staan ons ‘n oomblik stil by die Saligprediking: ‘Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is.’ Punt. ‘n Vers wat eintlik alles opsom. Wanneer niks sin maak nie, wanneer die politiek ons bang wil maak, wanneer ‘n gebou ineenstort en honde ingespan word om lewe te soek, is dit wanneer stilte neerdaal. Geseënd…nie omdat ons iets regkry nie, maar omdat God in daardie oomblik daar is waar ons opkyk na hulp, waar ons trane afvee of wonder oor alles.
"We pray for blessings, we pray for peace,
Comfort for family, protection while we sleep.
We pray for healing, for prosperity.
We pray for your mighty hand to ease our suffering.
And all the while, you hear each spoken need.
Yet love us way to much to give as lesser things:
Cause what if your blessings come through raindrops?
What if your healing comes trough tears?
What if a thousand sleepless night are what it takes to
know you are near?
And what if trails of this life are your mercies in disguise?" (Uit Blessings van Laura Story)
Na 116 uur is nog iemand lewendig gevind. ‘n Dankbare wonderwerk. Ander was nie so gelukkig nie, maar sý lewe is gered. “Ek is ok…”, sy woorde uit die hospitaalbed.
‘My vrede laat ek vir julle na.’ Ons skat tussen die rommel. Die waarborg tussen die lewe se deurmekaar. Waar daar liefde is en deernis, daar is U. Ook in die hande en voete van hulle wat klippe aftel en aanhou soek. Geseënd is hulle wat arm van gees is…
Geseënd is ons in hierdie land wat weet hoe nodig ons Jesus het.