Padlangs, ‘n gebed

Oppad werk toe bid ek vir ons land. So baie mense, so baie dinge, soveel opinies. Ons mooi land met al sy uitdagings.

By die verkeerslig kyk ek na die groep mans wat rondstaan en wag vir werk. Ek kan nie help om te wonder hoe hulle oorleef as ek al sug oor alles wat duurder raak nie. Oor my kostrollie en die maand se ‘budget’ wat net nie meer wil klop nie… By die volgende kruising jaag ‘n Taxi oor die rooi lig, die ander karre wag hul beurt af. ‘n Vrou praat land en sand oor haar foon agter die stuur. Net nog ‘n Donderdagoggend. Almal êrens heen oppad. ‘n Hele ent verder draai ek van die groot pad af. My oog vang ‘n vrou met ‘n wasskottel by haar. Sy is besig om klere te was in ‘n dam wat onlangs na die reën verskyn het. Ek sien nuwe informele huisies naby haar. Hoe anders is haar lewe nie as myne nie. In ‘n raamwerk van 20km is ons wêrelde uitmekaar…

Hoe min weet ons tog van mekaar se uitdagings. Hoe kompleks is ons land tog nie. Almal met hul eie stories en verwagtinge.

Dis amper verkiesing, Here, bid ek sag. Ons land het U nodig. Mense soek werk, hulle soek kos en ‘n plek om klere te was. Baie is moeg, baie leef sonder hoop. Ons is moeg vir sukkel, moeg vir misdaad, moeg vir aanhou probeer.

Waar is U Here? Waar gaan ons U vind?

Ek onthou my onlangse gesprek met ‘n vriendin wat eers in New Zealand gebly het en nou na Australië verhuis het. Dit bly vir haar ‘n uitdaging om tussen mense te bly waar geloof ‘n rariteit is. Met Paastyd wou sy by die kinders in haar klas weet of hul weet waaroor Paasfees gaan. Niemand het geweet nie. Sy vra toe of hul al ooit van Jesus gehoor het. Twee kinders het hul hand opgesteek. Hul weet van Hom maar glo nie. Sy vertel hoe sy aangespreek is omdat sy gesê het dat sy nie glo in Kersvader en die Paashaas nie. Sy moes skriftelik verskoning vra. Vriende wat in Skotland bly het vertel hoe uitgesluit hul kinders was omdat alles op ‘n Sondag gebeur en kerk defnitief nie inpas by die skole se programme nie. Waar die gras groener is, is daar ook ander uitdagings. Is dit ‘n ander tipe geloofsreis wat jy moet stap.

Ek kan nie help om te wonder wat die gevaarlikste is nie. ‘n Donker land waar ons soekend bly na lig, of ‘n verligte land waar mense so onafhanklik leef dat godsdiens die fabel raak. Lig en duisternis langs mekaar en tog so ver van mekaar verwyderd.

Antoinette Pienaar noem in een van haar gesprekke op RSG dat ons geloof voor ons bang moet plaas. In ander gevalle moet geloof dalk bo opinies geplaas word. Beide is ‘n keuse.

Terwyl ek ry en om my kyk, weet ek steeds nie hoe ek moet bid nie. Dan begin ek maar met die een gebed wat ek ken, en las my stukkies sukkel by. Ek weet dat Jesus dit mooier vir my sal pleit:

'Ons vader wat in die hemel is, dis verkiesingstyd in ons land.
Laat U naam geheilig word, laat U koninkryk kom.
Here, help ons om U te sien, tussen die sinkdakke, in die verkeer en in die mense rondom ons.
Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
U wil, nie myne nie Here.
Gee ons vandag ons daaglikse brood, die dinge was ons regtig nodig het.
Dankie Here dat U vir ons sorg...wys my waar ek U hande en voete moet wees om ander te help.
Vergeef ons ons oortredings, soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree. Here, dis nie altyd so maklik nie. Plant U liefde in ons harte...
Askuus Here, soms praat ons ook op die foon terwyl ons ry maar skel die taximan wat jaag.
Laat ons nie in versoeking kom nie,
Om te twyfel en ons hoop op ander dinge te plaas nie, om tevrede te raak met ons gemak en ons honger vir die lig te verloor.
Maar verlos ons van die bose, asseblief Here...
Plaas geloof voor ons bang.
Dankie dat ons kan bely: Aan U behoort die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid.
Here, seën ons land, Suid-Afrika.
Laat U lig deur ons skyn.
Amen'

Agter die grys wolk skyn ‘n straaltjie lig. Daar is steeds rommel langs dis pad maar daar is ook ‘n oupa wat sy kleinkind stoot. ‘n Taxi maak vir my plek in die verkeer. Iemand trek ‘n tak uit die pad. Om ons is daar steeds goeie mense.

Geloof, hoop en liefde. Die basis van ons bestaan. Of ons hier bly, in New Zealand, Australië, Skotland of enige ander plek. Mag ons altyd hunker na die lig, Geloof voor ons bang. Geloof bo opinies. Hoop in ons woorde, liefde in ons dade. Geseënd is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

U is waar? Tussen die sinkdakkies én op die stofpad. Tussen al die rommel en daar waar mense sug. U is reeds hier, Here. Daarvoor is ons dankbaar. Hoor dan vandag ons gebed as ons vra:

Seën ons land, Suid-Afrika.

Dankie Here!

Amen

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap