Sonsopkoms verwagting

Dit was nog vroeg in die oggend. Voor die sonsopkoms. Die vroue was gereed met hul olie. Nie eens hul hartseer en onbegrip kon hul keer om te doen wat hul moes nie. Daar was waarskynlik maar min slaap. Ook die kommer hoe  hul verby die swaar klip sou kom? Die dissipels was gebroke en swak. Geen hulp uit hulle geledere. Dan lees ons hoe hul met die sonsopkoms die graf bereik… maar tot hul verbasing,  is die klip reeds weggerol….

Op die Sondagoggend van die Paasnaweek, gaan hardloop ek ook vroeg. Ek vang die dagbreek oor die see en hardloop berg om. Terwyl ek teen die koppie opstap, steek die son sy kop uit en die nag word heeltemal dag. Ek ervaar hoe lig die donker breek en besef opnuut, as mense sou stilbly, sal die natuur dit uitroep. Lig verdring die duisternis!

In die kerk staan ons stil by die Markus evangelie. By die vroue wat die graf vroeg besoek. Nie vir Jesus vind wat hul soek nie, maar ‘n jong man daar kry met lang wit klere. Wanneer hulle groot skrik, bemoedig hy hulle dat Jesus, vir wie hulle soek, nie daar is nie omdat Hy uit die dood opgewek is. Volgens oorspronklike geskrifte eindig Markus sy boek met die vertelling dat die vroue uit die graf gegaan het, bewend weggehardloop het en vir niemand iets daarvan gesê het nie, omdat hulle bang was.

Die verhaal fassineer my. Dapper vroue wat te midde van hul eie hartseer tog krag vind om Jesus aan te hou versorg. Hul verwagting is egter soveel anders as myne wanneer ons die sonsopkoms op die Sondag beleef. Hul vind ‘n leë graf. Ek weet die graf is leeg. Hul soek vir Jesus in sy flees. Ek vind Hom in my gees. Hul hardloop weg in vrees. Ek word versterk in my geloof.

Waarom eindig Markus daar, is die vraag. By die vroue se reaksie. Hy los ons by ‘n leë graf en vroue wat verskrik weghardloop. Ons ken die evangelie verder soos ons dit elders lees. Hoe hy aan die dissipels verskyn het, hul verder geleer het en later opgevaar het na die hemel. Ons beweeg oor die kruis en oor die graf na die reis daarna. Dit laat my wonder…

Op ‘n manier laat Markus ons by die leë graf stop. Die essensie van die evangelie. Ongeag die vroue se reaksie, of hul stilbly of tog later die nuus vertel. Die graf ís leeg. Hy ís uit die dood opgewek. Die stille vraag is wat ons maak met hierdie wete. Waar pas dit in my en jou storie?

In my eie getuienis het ek opnuut besef dat ek nie dieselfde mens sou wees as glo nie deel van my was. Soms raak ek besig met my lewe maar in die nag, wanneer dit stil word, is dit met Hom wat ek praat. Of ek skryf, of sing en of ek bergop klim, êrens is Hy in my gees. Ons geloof is anders as enige ander godsdiens omdat dit deur ‘n graf loop. ‘n Leë graf.

Die sonsopkoms was besonders. Duisternis kon die lig nie keer. Om te glo is ‘n keuse. Hy leef is die wete.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories