Nuus
Die nuus oor haar kanker het ons almal geskok. Stadium 4. Hoe, waar, wanneer, was vrae wat ons wou vra, maar jy het stil gebly en gesluk. Haar kinders nog so jonk, was jou volgende gedagte. Weereens het jy jou kinders bloot ‘n stywe druk gegee en nie gekla toe jy hul moes gaan haal nie. Die lewe wat so maklik verander.
Wat bid ons vir haar? Genesing? Vrede? Aanvaarding?
Tydens ‘n erediens die week tevore, lees ons van Jakob wat ‘n ontmoeting met God gehad het wanneer hy met sy kop op ‘n klip gaan lê. Hy droom van engele wat op en af na die hemel beweeg. Dis in daardie oomblik wat Jakob besef dat die Here reeds daar teenwoordig is. Hy kry die belofte dat God by hom is en hom sal beskerm waar hy ook al gaan. Die kwessie is dus nie of God by ons is nie, dalk eerder ‘n geval dat ons oë moet oopgaan om God se teenwoordigheid in ons lewe te sien.
Wanneer my kind op ‘n tennistoer vertrek kort voor haar groot hokkietoer, smag my hart om saam te gaan. Om haar in watte toe te draai, seker te maak sy is ok, kry nie seer nie, slaap genoeg en kom veilig terug. Die administrasie is te veel en my kop weet ek kan nie saam gaan nie. Ek moet “let go en trust”. Moeilik. Ek voel soos Moses se vriende wat sy arms moet ophou sodat hulle die geveg kan wen. Ek kan dit net biddend doen. God is daar waar ek nie kan wees nie.
Dink ek aan die vriendin met die kanker, weet ek dat God haar nog nooit gelos het nie. Dat ons dalk nie altyd die ‘timing’ en proses sal verstaan nie, maar dat Sy belofte steeds geld.
Jeremie 29 se bekende vers sê: “Ek weet wat ek vir jou beplan…” Ons spring na die gedeelte oor ‘n toekoms en verwagting, en mis die “Ek” aan die begin van die sin. Dr Deon Foster lig dit uit dat ons in tandem met die Here moet leer dans. Wanneer ons Hom toelaat om die ‘lead’ te wees raak ons toekoms veilig in sy arms. Hy weet immers wat Hy vir ons beplan. As my oog op Hom gerig is, kry ek ‘n ander fokuspunt.
Maak my oë vandag oop sodat ek U kan sien Here. Help my om saam met U in my werk en my huis te kan wals. Dankie dat U belowe het dat U altyd by ons is. Ook in ons twyfel, in ons magteloosheid en daar waar ons worstel in ons geloof. Dankie dat U reeds by my kinders is. Help hul om U raak te sien. Neem U hul arms Here en maak die lewe ook vir hulle ‘n mooi tango.
“Die regverdige sal nooit wankel nie, hy sal altyd onthou word. Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie, hy is gerus, hy vertrou op die Here.” Psalm 112:8
Wanneer nuus ons wil oorweldig, verseker God ons dat Hy lankal daar is.