Plesierboot

My mond wou oophang. Die fotos en videos van die plesierboot was soos iets uit ‘n ander wêreld. Die uitsig en blou water was prentjiemooi. Ek was veral verstom oor die pretpark vir die kinders met pad-pad bane en waterglybane. Alles op die skip. Toe kom die gebedsversoek: Bid asb vir die personeel. Almal is vreeslik negatief. Sommige werk al jare daar. Niemand is meer lus vir die kinders nie. Die prentjie was skielik ‘n bietjie dowwer. Ek het met ander oë na die musikante en vermaaklikheidskunstenaars gekyk. Vrolik op die verhoog maar agter die skerms, net nog ‘n werk. Ek het skielik besef dat my vriende se roeping nie net vir die kinders was nie, maar dalk selfs nog meer vir die personeel.

Iemand noem in die week dat ons in ‘n era leef waar almal voortdurend stimulasie soek. Ons kry nie genoeg van ‘entertainment’ nie en weet nie meer hoe om onsself daarsonder te vermaak nie. Kinders word ‘n foon of tablet in die hand gestop wanneer hul saam met ouers moet wag. Tegnologie is jou metgesel op reis, by die huis en op kantoor. Ons voel verlore daarsonder. Ons is soekend na nog. Nog plesier. Nog stimulasie. Tog bly mense soekend en honger. Raak die mooi verlore in net nog ‘n boot of net ‘n werk.

Die wêreld glo dat geluk die einddoel is sonder om te besef dat geluk die vrug is. In Psalm 1 word ‘n gelukkige mens beskryf as iemand wat soos ‘n boom is wat langs waterstrome geplant is, wat vrugte dra op die regte tyd en waarvan die blare nie verdroog nie. Ek sien ‘n prentjie van standvastigheid. Die ‘clue’ is dat hy sy vreugde in die woord van die Here vind. ‘Rooted.’

Sommige mense bly soekend. Na geluk. Die regte lewensmaat, ‘n goeie werk. Tog bly hul vasgevang in dieselfde maalkolk van verkeerde keuses. Hulle bly eensaam omdat hulle op die verkeerde plek bly soek en verleer het wie hul is. Hul lewe word ‘n gejaag na wind waar vrede hul bly ontwyk. Soveel mense besef bloot nie dat die kosbaarste dinge in die lewe, nie met geld gekoop kan word nie.

Soms leer jou kinders jou op vreemde maniere wat regtig belangrik is.

‘n Hele paar jaar gelede het ons besluit om die kinders op ‘n uitstappie te neem. Dit het gesneeu op die Kaapse berge en ons wou vir hul die sneeu ,die geel canolablomme en die groen koringlande gaan wys. Die hoogtepunt sou die trekkerskou op ‘n plaasdorpie wees waar hul op die trekkers kon klim en na die plaasdiere kon kyk. Op ons pad na die skou het ons kar teëspoed beleef. ‘n Pap wiel in die middel van nêrens. Terwyl ‘n gawe boer my man gehelp het, het ek met die kinders bal gespeel om hul besig te hou. Kort voor lank was ons weer oppad en het alles verder volgens plan verloop. Toe ons later die aand by die huis kom en ek die kinders in die bed sit, wou ek weet wat die hoogtepunt van hul dag was? Almal het saamgestem dat dit was toe mamma met hul bal gespeel het. Die antwoord het my verstom. Nie die sneeu, die mooi uitsig of trekkerrit was so lekker as die saamspeel nie.

Ek het teruggedink aan die boot. Plesierwêreld vir jonk en oud. Die sneeuberge en canolablomme vir die ouers. Tog het gewonder hoeveel meer werd saamspeel vir kinders sou wees. Eerder as ‘n nanny, dalk ‘n mamma wat hom self in die bed sit. In plaas van ‘n tablet in die hand dalk ‘n storie voorlees.

Om ‘purpose’ te vind raak belangrik in alles wat ons aanpak. Of dit is om op ‘n skip te gaan werk of om jouself te bederf met die luukse van ‘n bootvakansie. Geluk is nie die einddoel nie, dit is die vrug van dit wat reeds in jou is. The joy of the Lord is our strength. Dis die krag wat in ons werk.

Ek seën vandag vir Pieter en Leané met hul werk op die bote. Wat reeds ‘n verskil maak waar hul beweeg. Ek bid vir die personeel en elke werknemer om hul roeping te vind. Daar is niks verkeerd om jouself te bederf nie, maar ek bid vir mense wat glo dat geluk gekoop kan word met ‘n duur vakansie. Dis ‘n gawe as jy die mooi ook in eenvoud kan ontdek.

Bo alles bid ek dat almal wat soekend is, sal ontdek dat Jesus die antwoord is.

Elkeen wil getel word.

Stuur vir my 'n boodskap

Nog stories

Alle stories