Pelgrims
So skakel ek by ‘n stapgroep in waar ek niemand ken nie. Vir ‘n paar redes: Om by berge uit te kom waar ek nie op my eie kan stap nie. Omdat ‘n mens moeg word om ander mense te vind wat op dieselfde tyd as jy kan stap en omdat ek nie verantwoordelik wil voel vir die weer of moeilikheidsgraad van die roete nie. Die stapgroep bestaan uit verskeie individue soos ek. Almal mense met ‘n liefde vir die berge. Die vinnige stappers sorteer hulself vinnig uit. Wag saam bo vir die ander terwyl ons die uitsig bewonder. Op ‘n stadium word ek bewus van die voorreg om uit jou “comfortzone” te beweeg sodat jy ander “random” mense kan ontmoet. Dis immers op reis, waar Jesus se stories dikwels gebore word. Dit skep geleenthede vir vriendskappe oor grense. Dit raak my motivering om die 13 Pieke challenge aan te gryp.
In dieselfde week wat ek hieroor wonder, is die tema by die Hoop Gemeente juis dat ons pelgrims van die lewe is. Ons hoef nie noodwendig ‘n Camino te gaan stap om dit te ontdek nie. Elke dag en elke geleentheid op ons pad vorm deel van die reis. Ek ervaar dit by my werk waar ek daagliks ander se stories hoor en deel raak van hul lief en leed. Soms moet ons saam worstel oor die vraagstukke van die lewe wanneer ‘n hartjie op die sonar nie meer klop nie. Deel ek in die vreugde van ander ouers wat hul wonderwerk beleef. Moet ek ‘n kalm rigtingwyser word wanneer die mammogram die kankerdiagnose bevestig. Dit maak ons reisigers wat ander se laste help dra.
In ‘n onlangse foon-boodskap word ouers bemoedig om nie moedeloos te raak oor die tyd waarin ons leef nie en ook nie hierdie era te verwens nie. Soos Moses gebore is in moeilike omstandighede, was dit presies die regte agtergrond om uiteindelik die groot leier te kon wees wat die Israeliete deur die woestyn moes lei. Ester word met die oog op daardie tyd die koningin. Ons is gemaak om in hierdie tye ouers te wees en ons kinders is gemaak om nou te leef. Met al die uitdagings wat rondom ons is. Die “challenge” is om die geleenthede te ontdek en raak te sien. Te kyk waar ons met al ons gawes ‘n verskil kan maak.
Wanneer my huiswerker ‘n tyd lank weg is weens ‘n begrafnis, besluit ek om ‘n “verkeerslig-meisie”, ‘n kans te gee. Een van hulle wat papiertjies uitdeel met hul kontak nommers waarin hul vra vir werk. Ek kies een met ‘n mooi glimlag vir ‘n dag waar my man van die huis af werk. Ek het nie vreeslik moed vir die uitkoms toe sy begin met die wasgoed en dit maar ‘n bietjie krom en skeef opgehang word nie. Tot my verbasing stap ek later die mddag by ‘n silwerskoon huis in met wasgoed netjies opgevou. Sy glimlag breed toe ek haar prys en noem dat sy goed gewerk het. Ek kan die verbasing op haar gesig sien toe ek ‘n bietjie ekstra betaal. Sy kleur my dag in toe ek later ‘n dankie boodskap van haar kry. Vir een mens is daar vanaand geld vir kos op die tafel. Ek voel op ‘n manier skaam oor die gemak waarin ek leef. Sy gee vir my ‘n ander bril om op te sit. Dit was lekker om ‘n oomblik deel van haar lewensreis te kon word.
Ons is nie bedoel om net vir onsself te leef nie. Ook nie om net in ons gemakzones te bly nie. Dis goed om ‘n tuiste te hê in vriende maar dis dikwels op reis waar jy dalk onwetend ‘n groter impak op ander se lewens kan maak. ‘Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik. Mattheus 5:16.
Pelgrims van die lewe. Gemaak om nóú te leef. Dis die boodskap wat jou kinders moet hoor. Of jy tussen ‘random’ mense stap, op ‘n hokkietoer vertrek, in ‘n koshuis intrek, op ‘n beheerliggaam dien of sommer net inkopies doen, dit is jou Camino. Dis op reis waar Jesus sy dissipels geleer het om anders te kyk en op te tree. Dis waar jy ‘n verskil kan maak.